Agriculture
Bek-en-klouseer: beskikbaarheid van entstowwe, uitvoer en hoop vir die bedryf─── ELSABÉ RICHARD 07:49 Tue, 09 May 2023

Die gebrek aan die beskikbaarheid van veral entstowwe vir bek-en-klouseer was verlede week een van die belangrike kwessies by Bloemskou, tydens 'n paneelbespreking.
Die Beefmaster-groep se Louw van Reenen was een van die paneellede en het beklemtoon dat samewerking tussen die regering en produsente van uiterse belang is om hierdie siekte hok te slaan.
LEES OOK: Daar’s lig aan die einde van die tonnel vir rooivleis-boere
Van Reenen sê die regering speel 'n belangrike rol aangesien dit onder meer verantwoordelik is om heinings rondom veral die Kruger Nasionale Park op te sit waar bek-en-klouseer vanaf buffels na beeste kan versprei; diere in te ent; en te verseker dat daar genoeg entstowwe is vir diere om ingeënt te word.
"Diere moet ingeënt word deur die regering, so ons kan nie self die entstof koop nie, ons kan dit nie self vervaardig nie... Ons moet dit deur die regering bekom en hulle is in beheer daarvan.
"Suid-Afrika vervaardig nie meer sy eie entstof nie, ons koop dit van Botswana af in en dit is 'n baie groter koste as wat dit was."
Uitvoer
Die rooivleisbedryfsdienste se Dewald Olivier sê lande soos Saoedi-Arabië stel steeds belang om Suid-Afrikaanse rooivleis in te voer ondanks die feit dat die rooivleisbedryf bek-en-klouseer probeer hokslaan.
LEES OOK: Saoedi-Arabië-uitvoerooreenkoms ontsluit geleenthede vir beesvleisprodusente
OFM-nuus het voorheen berig dat Suid-Afrikaanse beesvleisprodusente nou geweldig baat sal vind by 'n ooreenkoms wat Suid-Afrika met Saoedi-Arabië gesluit het om beesvleis uit te voer na dié land. Van Reenen sê hulle verwag dat Saoedi-Arabië tot 1 000 ton beesvleis per jaar sal bestel.
Hy sê hierdie ooreenkoms sal dan een van die grootste beesvleisuitvoermarkte tot nog toe vir Suid-Afrika wees.
Die ooreenkoms is onderteken toe die Minister van Landbou, Thoko Didiza, President Cyril Ramaphosa na Saoedi-Arabië vergesel het as deel van ‘n beleggingsveldtog. Die aankondiging van dié ooreenkoms is op Maandag 17 Oktober 2022 gedoen.
Van Reenen voeg by dat amptenare van Saoedi-Arabië na verwagting oor 'n paar maande die land sal besoek om die verskillende fasiliteite te kom ondersoek en goed te keur. ‘n Gesondheidsertifikaat moet ook uitgereik en deur die betrokke departemente en amptenare onderteken word.
Suid-Afrika nie meer bek-en-klouseervrye sone nie
Suid-Afrika het in 2019 sy status as 'n bek-en-klouseervrye sone verloor toe die virus in Limpopo aangemeld is. Die positiewe gevalle is in Januarie van daardie jaar by die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (OIE) aangemeld, wat toe die verklaring gedoen het.
Suid-Afrika het sedertdien hard gewerk om sy status as 'n bek-en-klouseervrye sone terug te kry, maar meer gevalle is daarna aangemeld.
In die onlangse geskiedenis het sewe van Suid-Afrika se nege provinsies bek-en-klouseer-positewe gevalle gerapporteer. Nog geen nuwe gevalle is sover aangemeld nie.
Dít is goeie nuus vir die bedryf, wat hoopvol bly.