Agriculture
Landbounuus: Blitsvinnige reaksie van boere ná aanval op voormalige Springbok-haker, sy pa─── ELSABÉ RICHARD 14:12 Mon, 29 May 2023
Boere in die Oranjeville-omgewing in die Vrystaat het blitsvinnig gereageer en al die paaie afgesper ná 'n aanval op die voormalige Springbok-haker, Lukas van Biljon, en sy pa, André, op 'n kleinhoewe.
Die polisie sê ses gewapende verdagtes het Vrydag die huis van die Van Biljon-gesin binne gestorm waarna skote afgevuur is. André het probeer om hulp te ontbied. Twee van die verdagtes is in hegtenis geneem kort ná die voorval tydens 'n padblokkade by Viljoensdrift.
LEES OOK: Lukas van Biljon meer as 60 keer met mes gesteek
Vier veediefstal verdagtes is in die Noordoos-Kaap aangekeer nadat hulle betrap is met vyf skape in 'n wit Mazda. Polisiewoordvoerder, Ursula Roelofse, sê die eienaar van die skape, wat uit sy kraal in Sterkspruit gesteel is, het die verdagtes agtervolg en die polisie in kennis gestel van die voertuig wat onderweg was na Aliwal-Noord.
Agri Wes-Kaap het 'n simpleksradiofrekwensie bekendgestel om boere in die provinsie te voorsien van 'n kommunikasiemiddel wat werk sonder kragtoevoer of selfoonontvangs. Enige hoëfrekwensieradio sal op die geregistreerde kanaal met ander boere in die omgewing kan kommunikeer in tye van nood. Vrystaat Landbou het onlangs kommer uitgespreek oor selfoonsein-verlies weens beurtkrag wat lei tot toename in misdaad op die platteland.
Tafeldruifproduksie toon 'n afname in byna alle streke weens onder meer onvoorspelbare weerpatrone, probleme by die Kaapstad-hawe en beurtkrag. Volumes verpak vir uitvoer het met 24% gedaal in die noordelike provinsies, sowat 16% in die Oranjerivierstreek, en 14% in die Olifantsrivierstreek sowel as die Hexriviervallei. Die Bergrivier is die enigste streek waar die volumes die verwagting oortref.
EN
Die Swartsee-graantransaksie is 'n sukses, aangesien Oekraïne meer as 25 miljoen ton graan en plantaardige olies uitgevoer het sedert die transaksie in Julie 2022 begin het. Die ooreenkoms is gefasiliteer deur die Verenigde Nasies se verteenwoordigers, die Turkse regering en Rusland en Oekraïne.
