On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Agriculture

Landbou se BBP krimp in eerste kwartaal van 2023

───   ELSABÉ RICHARD 08:16 Mon, 19 Jun 2023

Landbou se BBP krimp in eerste kwartaal van 2023 | News Article
FOTO: Mark Stebnicki/Pexels

Syfers wat Statistieke Suid-Afrika onlangs bekend gemaak het, toon dat landbou se bruto toegevoegde waarde in die eerste kwartaal skerp met -12,3% kwartaal-op-kwartaal (seisoenaal aangepas) gekrimp het.

Daar is 'n paar elemente wat hierdie skerp inkrimping verklaar, sê Wandile Sihlobo, hoofekonoom by die Landbousakekamer van Suid-Afrika (Agbiz).

"Eerstens het die veldgewasse 'n moeilike begin van die seisoen gehad as gevolg van oormatige reën, wat aanplantings in sommige gebiede ontwrig en met meer as 'n maand vertraag het.

LEES OOK: Bek-en-klouseer: beskikbaarheid van entstowwe, uitvoer en hoop vir die bedryf

"Tweedens voel die beesbedryf steeds die nadelige gevolge van bek-en-klouseer, wat lei tot 'n afname in slagaktiwiteit. Ons sien soortgelyke kwessies van dieresiekte-uitdagings ook in die varkvleisbedryf.

"Laastens kan 'n mens nie die impak van beurtkrag op pluimveeproduksie onderskat nie. Die regering het egter sedertdien verskeie maatreëls ingestel om die beurtkraglas op boere te verlig, soos beurtkragbeperking, uitbreiding van die dieselrabat na die voedselwaardeketting, en mees onlangs die bekendstelling van die Agro-Energiefonds."

Sihlobo verduidelik dat Suid-Afrika se landboukwartaallikse bruto waardetoevoegingsyfers geneig is om redelik wisselvallig te wees. Dus word daar altyd gefokus op die jaarlikse prestasie. 

"Dit is belangrik dat ons verwag dat die komende kwartale in die sektor 'n robuuste prestasie sal toon en die jaarlikse groeisyfer tot ongeveer 3% sal opstoot (van 'n hersiene 0,9% in 2022)."

Terwyl die somergewasseisoen op 'n slegte grondslag begin het, en die plant van sommige gewasse met ongeveer 'n maand vertraag is, het die weerstoestande in Januarie verbeter en die voltooiing van die aanplanting moontlik gemaak.

OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.