On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Landbou teken 'ordentlike handelsoorskot' in eerste kwartaal aan

───   ELSABÉ RICHARD 11:00 Tue, 18 Jul 2023

Landbou teken 'ordentlike handelsoorskot' in eerste kwartaal aan | News Article
Foto: Kirsten Bühne/Pexels

Die begin van 2023 was maar rof vir die Suid-Afrikaanse landbousektor wat produksie en uitvoer betref, sê Wandile Sihlobo, hoofekonoom by die Landbousakekamer van Suid-Afrika (Agbiz).

Die oormatige reën het produksie-uitdagings meegebring wat die somergewasaanplantingsaktiwiteite met ongeveer 'n maand vertraag het. Weersomstandighede het wel later verbeter.

Handelsurplus

Ten spyte van dié uitdagings het Suid-Afrika wel 'n landbouhandelsurplus van VS$1,20 miljard in die eerste kwartaal van 2023 aangeteken, 9% hoër as verlede jaar se ooreenstemmende tydperk. 

Die toenemende handelsoorskot is hoofsaaklik die gevolg van 'n merkbare afname in invoerwaarde, nie noodwendig 'n groei in uitvoer nie.

LEES OOK: Namakwa-boere steeds dankbaar vir reën te midde van noodtoestand-verklaring

"Wat uitvoer betref, het die verlangsamende landboukommoditeitspryse winsgewendheid verlaag vanaf die vlakke wat boere 'n jaar gelede geniet het, spesifiek graan en oliesade. 

"Boonop het sommige logistieke uitdagings in Kaapstad se hawe voortgeduur en dus die uitvoer van tafeldruiwe en verskeie tuinbouprodukte negatief beïnvloed. Tog was dit nie so hard soos in die vorige jare nie. 

"Die samewerking tussen georganiseerde landbougroepe en Transnet het gehelp om landbou-uitvoerdoeltreffendheid ietwat te verbeter. Met dit gesê, is daar nog ruimte vir verbetering, wat noodsaaklik is vir al die hawens aangesien Suid-Afrika 'n uitvoergerigte landbousektor het," sê Sihlobo.

Hy deel verder dat Suid-Afrika se landbou-uitvoer in die eerste kwartaal van 2023 met 2% jaar-op-jaar (j/j) gedaal het tot VS$2,9 miljard. Kwartaalliks is die uitvoer egter 5% hoër as die laaste kwartaal van 2022. 

Top uitvoerbare produkte

Top uitvoerbare produkte was onder meer druiwe, mielies, appels en pere, wyn, wol, appelkose en perskes, suiker, vrugtesap en sojaboonprodukte. 

"Ons verwag dat sommige van hierdie produkte steeds die uitvoerlys sal oorheers, met die toevoegings van sitrus, waar oes- en uitvoeraktiwiteit aan die gang is."

OFM Nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.