Agriculture
Landbounuus: Landbou gaan gebuk onder swak padinfrastruktuur, koalisie politiek─── ELSABÉ RICHARD 14:11 Mon, 07 Aug 2023
Suid-Afrika verkeer in 'n haglike toestand. Vrystaat Landbou-president, Francois Wilken, sê boere gaan gebuk onder uitdagings soos swak tot geen padinfrastruktuur wat noodsaaklik is om goedere van die plaas na markte te vervoer.
Hy sê boonop het koalisie politiek 'n nadelige uitwerking op dienslewering.
Grondgesondheid speel 'n belangrike rol in die produksie van goeie gehalte aartappels. Die bedryfsliggaam, Aartappels SA, het onlangs tydens sy simposium op Parys bekendgemaak dat hy navorsingsprojekte begin het om grondgesondheid te bevorder en voedselvermorsing te bekamp. Navorsingsbestuurder, Dirk Uys sê dit word gedoen deur die potensiaal te ondersoek van laegraad aartappels.
Boere in die Sandveld-streek in die Wes-Kaap het minder as 30 jaar oor om te boer voordat die streek se water opraak. Dit is onlangs by Aartappels SA se simposium in Parys in die Vrystaat aan die lig gebring dat ondergrondse water in die Sandveld-streek met een meter per jaar daal. Boonop verhoog die geologiese samestelling en kunsmis die suurheid van die water so, dat slegs 20 jaar se water van besproeiingsgehalte oor is.
Die Minister van Handel, Nywerheid en Mededinging se voorneme om die 12-maande-moratorium op pluimveetariefverhogings op te hef, wat sal meebring dat pluimveetariewe aan ’n 265%-verhoging onderwerp word, sal 'n verwoestende uitwerking hê op reeds kwesbare huishoudings. Die DA se Dean Macpherson sê hierdie tariewe, onderskryf deur die Internasionale Handelsadministrasiekommissie en minister Ebrahim Patel, sal lei tot 'n stortvloed van kostestygings op 'n noodsaaklike voedselitem vir miljoene Suid-Afrikaners.
EN
Amerika se Departement van Landbou se Pretoria-kantoor het hul vooruitskatting bekend gemaak. Dit raam Suid-Afrika se 2023/24 mielieproduksieskatting op 15,8 miljoen ton. Landbousakekamer van Suid-Afrika-hoofekonoom, Wandile Sihlobo, sê hoewel hulle optimisties is oor die komende seisoen, skat hulle dit eerder op tussen 13 en 14 miljoen ton.
