Agriculture
Landbounuus: Graan-swendelaar moet agt jaar agter tralies uitdien─── ELSABÉ RICHARD 14:02 Mon, 18 Sep 2023
'n Bloemfonteinse graanmakelaar wat graanboere met miljoene rande ingeloop het, moet Dinsdag aanmeld by die Grootvlei-gevangenis.
Phillip Pretorius van Eco Grain CC is in die Vrystaatse hooggeregshof gevonnis tot agt jaar tronkstraf. Hy het tussen Oktober 2019 en Januarie 2020 mielies by boere in Bultfontein gekoop en sou hulle betaal het nadat hy die mielies aan silo's verkoop het.
Sentraal-Suid-Afrika het die brandseisoen betree, wanneer grasvelde op hul kwesbaarste en droogste is, en die kwik algaande styg. Vrystaatse Rampbestuur was die afgelope twee weke op 'n hoë gereedheidsgrondslag weens moontlike veldbrande en/of weerstoestande wat daartoe bydra. PH Prokureurs dispuutbeslegting-direkteur, Eldon Ward, sê grondeienaars en die publiek moet ag slaan op brandgevaarindeks omdat dit kan help om brande te voorspel. Hy sê dit is ook belangrik om brandgevaargraderings te ken.
Lewendehawe-veilings begin weerspieël die uitwerking van veldbrande. Beesproduserende gebiede – wat gekenmerk word deur grasvelde, loop veral deur. Agri SA vise-president, Nicol Jansen, sê boere neem dan kalwers wat tussen 160 en 180kg weeg na veilings, wat normaalweg eers op tussen 220 en 240kg gespeen sou word.
Hortgro verwelkom die verbintenis van Transnet Port Terminals om aandag te gee aan probleem in Tafelbaai-hawe. Dié sagtevrugtebedryfsorganisasie sê Transet werk aan gebeurlikheidsplanne om te verseker dat die komende vrugte-uitvoerseisoen gladder verloop as in onlangse jare. Die uitvoerseisoen duur van November en tot Meimaand, een van die besigste tye vir die Kaapstad-terminaal.
EN
Liefhebbers van jag-, die buitelewe en hengel kan met groot opgewondenheid uitsien na NAMPO ALFA 2023. Dié ekpo op NAMPO Park by Bothaville is 'n praktiese ervaring, waar besoekers onder meer in die buitelug 'n visstok kan vashou, aas aan 'n hoek kan sit en ingeligte besluite kan neem. Besoek Nampo Park van 12 tot 14 Oktober vir ‘n besonderse ervaring.
