Agriculture
Landbounuus: Privaat ondersoekinisiatief vir veediefstaal vorder goed, sê Vrystaat Landbou─── ELSABÉ RICHARD 14:30 Tue, 19 Sep 2023
Vrystaat Landbou beoog om sy privaat ondersoekinisiatief ook uit te brei na ander veediefstalgeteisterde gebiede in die provinsie.
Vrystaat Landbou se privaat ondersoekersinisiatief vorder goed ná sy bekendstelling in Julie. Dié projek is toegespits op die ondersoek van veediefstal-gevalle in die Fezile Dabi-omgewing in die Noord-Vrystaat. Provinsiale koördineerder, Peet Swanepoel, sê ondersoekers is nog hard aan die inligting insamel. Vrystaat Landbou beoog om sy projek ook uit te brei na ander veediefstalgeteisterde gebiede in die provinsie.
Charlesville-inwoners en diere in Jagersfontein moet met besoedelde lug en water saamleef tot nadeel van hul gesondheid. ActionSA sê hoewel Jojo-tenks voorsien is, is hulle meer leeg as vol. 'n Myndamwal het 'n jaar gelede daar ineengestort, waarna diere, gras en huise bedek was onder grys slik.
Die Landboudepartement hou 'n bek-en-klouseer-bewusmakingsveldtog om die uitdagings daarvan die hoof te bied. Die departement sê die voortgesette voorkoms van bek-en-klouseer, en ander dieresiektes, kniehalter die landbousektor. Hy sê die uitroei van dieresiektes bly 'n hoeksteen vir siektebeheer in die land. Amptenare en kundiges sal tydens die veldtog inligting en maatreëls deel om veesiektes te beheer en te bekamp.
Die voortslepende bedryfskrisis by Transnet hou gevaar in vir die land se uitvoer-mededingendheid. Tensy dringende stappe gedoen word om dit die hoof te bied, kan Suid-Afrika se ekonomie permanente skade ly. Dit sluit in om Transnet uitvoerende hoof Portia Derby summier te ontslaan en Transnet-korridors onvoorwaardelik aan uitvoerders oop te stel.
EN
Oekraïne se landbouministerie meld 'n koringoes aan van altesaam 20,7 miljoen ton. Dié prestasie is veral noemenswaardig gegewe die uitdagende agtergrond van die voortdurende Russiese inval, wat Oekraïense boere gestel het voor talle produksie- en logistieke struikelblokke. Graan SA berig nogtans word verwag Oekraïne se totale graanproduksie sal met 2% toeneem vergeleke met die vorige jaar - 'n bewys van die vasbeslotenheid van sy landbousektor.
