On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Agriculture

Eiervoorrade bedreig deur voëlgriep-uitbraak

───   ELSABÉ RICHARD 14:00 Tue, 26 Sep 2023

Eiervoorrade bedreig deur voëlgriep-uitbraak | News Article
Foto deur Julian Schwarzenbach/Pexels.

Die jongste nuus oor die pluimveebedryf dui op ’n potensiële eiertekort weens die uitbreek en verspreiding van voëlgriep in die land.

Die huidige voëlgriep uitbraak kom op 'n tyd dat beurtkrag reeds produsente se winsmarges onder druk plaas, aangesien hulle geen ander keuse het as om die gebruik van kragopwekkers permanent in hul bedrywighede in te sluit nie.

Eiervoorrade

Paul Makube, FNB-senior landbou-ekonoom, sê die uitbraak het 'n onmiddellike impak op eiervoorraad. Verwagtinge is dat opwaartse prysdruk 'n wanbalans in die vraag en aanbod op mediumtermyn sal hê, sê hy.

"Vir braaikuikens is aanduidings dat daar genoeg voorraad is voor die Kersseisoen, maar die situasie kan in 2024 vererger as die uitbreking nie in bedwang gebring word nie."

Pluimvee van kant gemaak

Na raming is sowat 20% van voëlgriep-geaffekteerde pluimvee tot dusver van kant gemaak, en indien die virus aanhou versprei, kan dit katastrofies wees vir die bedryf.

"Dit het groot finansiële implikasies vir produsente aangesien sulke verliese dit moeilik kan maak vir diegene wat reeds onder finansiële stres verkeer om verdere hulp te verkry. 

"Verder, die Brent-ruolieprys wat in Augustus 2023 met 7,5% maand-tot-maand (m/m) gestyg het tot VS$85,12/vat, en onlangs meer as VS$90/vat, plaas opwaartse druk op brandstofkoste. 

"Produksiekoste sal dus hoër wees en die laer pluimveegetalle beteken verminderde inkomste en 'n potensiële finansiële ondergang," sê Makube.

Nóg uitbrake

Die Departement van Landbou het intussen kommer uitgespreek oor die toename in die aantal plase waar hoogs patogene voëlgriep H5 en H7 aangemeld is.

Teen Donderdag 21 September is altesaam 50 gevalle van die H7 en 10 gevalle van die H5-stam aangemeld.

H7-stam:

  • Gauteng: 37
  • Mpumalanga: Twee
  • Limpopo: Twee
  • Noordwes: Twee
  • Vrystaat: Een

H5-stam: 
Die Wes-Kaap is die swaarste getref met betrekking tot die H5-stam met 'n
totaal van sewe aangemelde uitbrake. Die ander drie uitbrekings is binne KwaZulu-Natal.

Die gerapporteerde aantal hoenders wat gevrek het, is: 98 249
Die gerapporteerde aantal hoenders wat van kant gemaak is: 1 156 283
Op grond van hierdie gerapporteerde syfers was daar 'n totale verlies van 1 254 532 hoenders.

Voorsorgmaatreëls

Die departement moedig produsente aan om hul biosekuriteitsmaatreëls op die plaas te verskerp.

Die basiese maatreëls moet daarop gemik wees om kontak met wilde voëls te voorkom.

Enige vermoede van die siekte moet onmiddellik by die Staatsveearts aangemeld word.

OFM Nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.