On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Agriculture

Impak van Israel-Palestina-konflik op Suid-Afrikaanse landbousektor

───   ELSABÉ RICHARD 08:22 Mon, 16 Oct 2023

Impak van Israel-Palestina-konflik op Suid-Afrikaanse landbousektor | News Article
Foto deur Nemanja Ciric/Pexels.

Dit kan dalk tot gevolg hê dat brandstof duurder word omdat die gebied waar die oorlog plaasvind, of kan plaasvind, ‘n belangrike voorsiener is van ru-olie in die wêreldmarkte.

Nuus oor die konflik tussen Israel en Palestina het skokgolwe regoor die wêreld gestuur.

Dié konflik kom nadat Rusland Oekraïne binnegeval het in Februarie verlede jaar - wat ‘n groot impak op landbou het. 

Dr. Kobus Laubscher, landbou-ekonoom, het aan OFM Nuus gesê die onlangse onrus sal nie 'n beduidende impak op landbou hê nie, maar dat invoer van tegnologie wel moontlik geraak kan word.

Sal die konflik tussen Israel en Palestina enigsins bydra tot die landbousektor se huidige uitdagings?

“Die aanvanklike aanduidings is nie dat dit ‘n direkte gevolg gaan hê nie ... Dit kan dalk tot gevolg hê dat brandstof duurder word omdat die gebied waar die oorlog plaasvind, of kan plaasvind, ‘n belangrike voorsiener is van ru-olie in die wêreldmarkte.

“Dit kan tot gevolg hê dat ru-olie dalk internasionaal kan styg.

“Maar wat Suid-Afrika aanbetref, is die uitvoerportefeulje van die Suid-Afrikaanse ekonomie na Israel nie noodwendig landbougunstig nie, en ek dink nie dit sal ‘n direkte rol op Suid-Afrikaanse uitvoer hê nie.

“Dit kan dalk ‘n impak hê op invoer van tegnologie. Ons is baie afhanklik van tegnologie wat ons invoer uit Israel, veral met die oog op besproeiing en diesmeer.“

Voer Suid-Afrika enige produkte uit na daardie lande?

“Ons voer uit maar hoofsaaklik tegnologie, steenkool, eintlik ander kommoditeite as landbouprodukte.

“Ons voer wel landbouprodukte uit maar ek dink die siklus van uitvoer nóú is nie in gedrang nie omdat dit seisoenale produkte is wat soontoe gaan. Maar ons uitvoer relatief tot Israel is klein in vergelyking met die res van ons uitvoerportefeulje wat ons hanteer.

“Dit gaan dalk ‘n nismark impak hê waar ’n mens spesifieke gebiede of spesifieke produkte teiken. Maar ek glo dat as dit ‘n semi-permanente verloop is van sake sal die uitvoerder sekerlik alternatiewe geleenthede ontwikkel en dit dan benut.”

Die feit dat brandstofpryse nóg meer kan verhoog weens die konflik tussen Israel en Palestina, is kommerwekkend vir landbouers.

“Ja, ek dink die onlangse verhoging in die dieselprys is, ek wil amper sê, katastrofies. [Dit het ‘n] direkte impak [op] boere wat nou moet voorberei en plant.

“Ek het al baie keer gesê dat ‘n boer ‘n prysnemer is. Hy kan nie daardie styging in dieselpryse deurgee [aan die verbruiker] nie.

“Die dieselprys, as ons kyk na die begrotings vir [byvoorbeeld] mielieverbouiing in die noordwes-Vrystaat, is enigiets van 11 tot 14% van die rekening van die boere, en afhangende van wat jou opbrengste is, kan dit nogal ‘n beduidende bedrag wees.

“Dit saam met ander aspekte soos beurtkrag en diesmeer wat weer van toepassing is op jou besproeiingslandbou, in die geheel gesien, gaan vir die boere bykomende uitdagings bied om die begroting te laat klop.

“Maar ’n mens moet ook sê daar was ‘n versagting wat die insetkoste aanbetref teenoor ‘n jaar gelede. Dis goeie nuus, maar dit bly nog baie duur.

“Wat my meer bekommerd maak, is die feit dat ons dalk weer hierdie jaar nie kan ‘saamspeel nie’. Ons het gekom deur ‘n relatiewe nat siklus en daardie verhoogde opbrengste wat ons gekry het, kon opmaak vir wat die insetkostestygings uit die boere se sak uit gehaal het.”

OFM Nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.