On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus: Uitwerking van konflik tussen Israel, Palestina op SA landbou bekyk

───   ELSABÉ RICHARD 14:04 Mon, 16 Oct 2023

Landbounuus: Uitwerking van konflik tussen Israel, Palestina op SA landbou bekyk | News Article
Foto deur Cats Coming/Pexels.

Nuus oor die konflik tussen Israel en Palestina stuur skokgolwe deur die wêreld.

Dis die grootste gewapende konflik sedert Rusland vir Oekraïne binnegeval het in Februarie verlede jaar - wat ‘n groot uitwerking op landbou het. Landbou-ekonoom, Dr. Kobus Laubscher, sê die nuwe stryd se uitwerking sal aansienlik kleiner wees, maar invoer van tegnologie kan wel daardeur geraak word.

’n Waarskuwing vir kwaai donderstorms is uitgereik vir Reitz, Frankfort en Warden in die Oos-Vrystaat. Dit kan skade veroorsaak aan infrastruktuur, nedersettings en vee. Die SA Weerdiens waarsku ook wind en hael kan nedersettings en landbouproduksie skade berokken. Intussen sê landbouweerkundige, Johan van den Berg, die El Niño-verskynsel, wat warmer en droër toestande tot gevolg het, is aan die versterk.

Dit is onseker hoe onlangse sterk winde en oorstromings die volume en kwaliteit van graan sal beïnvloed wat in die winterreënvalgebied geproduseer word. Landerye in laagliggende- en nat gebiede in die Overberg en Suid-Kaap het oorstroom, terwyl droër lande moontlik kan baat vind by die reën.  Farmer’s Weekly se Sindira Chetty sê die uitdaging vir boere in nat gebiede sal wees om in hul lande te kom vir spuittoedienings en om hul oeste betyds va die land af te kry.

September is gewoonlik ’n neutrale maand vir trekker- en stroperverkope. Somergewasprodusente wag vir die eerste reëns voordat hulle die grondvoorbereiding afhandel en beplan vir gewasaanplantings in die komende maand of twee. Die SA Landboumasjinerieassosiasie sê tekkerverkope van 715 eenhede in September is 8% minder as die 777 eenhede dieselfde tydperk verlede jaar. Vir die jaar tot dusver is trekkerverkope ongeveer 5% minder as verlede jaar.

EN

Elke Suid-Afrikaner met 'n stukkie grond kan nou begin voorsien in hul eie voedselbehoeftes danksy 'n projek wat bekendgestel is op Nasionale Tuindag om  selfonderhoudendheid te bevorder.  Een van die opvallendste kenmerke van die projek – PlantSelf - is 'n omgewingsvriendelike tuinbou-en-besproeiingstelsel, die  sogenaamde Plantkoepel, waarmee mense gewasse van hul keuse kan kweek. Soldariteit Helpende Hand uitvoerende direkteur, Hannes Noëth,  verduidelik dis ‘n draagbare kweekhuis wat herhaaldelik gebruik kan word en kan aanpas by uiteenlopende weersomstandighede. 

OFM Nuus




@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.