Agriculture
Landbounuus: Regering moet sy kant bring om landbou te help groei─── ELSABÉ RICHARD 14:42 Fri, 24 Nov 2023

Foto deur Leah Kelley/Pexels.
"As boere nie nodig gehad het om self te betaal vir die herstel van paaie en ander infrastruktuur wat die staat se verantwoordelikheid is nie, kon daardie geld aangewend gewees het tot voordeel van die plaaslike gemeenskappe en die land."
- Die landboudepartement se onvermoë om boere by te staan met die nodige entstowwe teen voorkombare siektes, kwynende munisipale dienste en korrupsie dra by tot verhoogde insetkoste. Dit strem ook verdere uitbreiding van landboubedrywighede. VF Plus-LP en landbou-hoofwoordvoerder, Tammy Breedt, sê as boere nie nodig gehad het om self te betaal vir die herstel van paaie en ander infrastruktuur wat die staat se verantwoordelikheid is nie, kon daardie geld aangewend gewees het tot voordeel van die plaaslike gemeenskappe en die land.
- Die minister van finansies het bevestig dat finansiering deur die Departement van Landbou aan Legal Aid SA gebruik sal word om die stadige verwerking van grondeise te bespoedig. Die landboubelangenetwerk, SAAI, sê hulle het met die jare talle klagtes ontvang van boere wat meen die potensiële verkoop van hul plase word belemmer deur ongegronde of stadige grondeise.
- Die perdewedrenbedryf voeg sowat 3% by tot Suid-Afrika se bruto binnelandse produk. Hierdie deel van die landbousektor dra ook by tot die aansienlike aantal werkgeleenthede wat tot die land se ekonomie gevoeg word, in die vorm van opleiers, jokkies en operateurs.
- Die Varkvleisprodusente-organisasie het kunsmatige intelligensie, oftewel KI, in sy bemarkingsprosesse geïntegreer. Dit het 'n hupstoot van 30% in verbruikersbemarkingsproduktiwiteit tot gevolg gehad. Die organisasie gebruik hierdie tegnologie, insluitend Chat GPT, vir marknavorsing en selfs resep-generering. Hy raai ander bedrywe aan om gebruik te maak van KI vir verbeterde doeltreffendheid en kostevermindering. Die organisasie beklemtoon egter ook die behoefte aan KI-beleide en duidelike differensiasie tussen KI- en bedryfsgegenereerde oplossings.
- Twee Sentraal-Suid-Afrikaners is bekroon met die Landbounavorsingsraad se 2023 Mentor van die Jaar-toekenning. Piet Mothepu van die plaas Kirkdale in die Vrystaat deel die toekenning met Agri Noordwes se Naudé Pienaar van Zondagspan Santas.
OFM Nuus/Elsabé Richard-May Daphné