Agriculture
Landbounuus: Augrabies-waterval teken byna 50 grade Celsius aan─── ELSABÉ RICHARD 13:57 Thu, 30 Nov 2023

Foto: Leah Kelley/Pexels
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens se woordvoerder Lehlohonolo Thobela sê voorlopige data dui op rekords oor die Noord-Kaap, die Vrystaat en Noordwes.
- Vandeesweek se hittegolf het nie net die sweet laat tap nie, maar ook rekords laat spat. Die kwik het tot rekordvlakke vir Novembermaand gestyg, én nuwe maksimum en minimum hoogtepunte bereik. SA Weerdiens-woordvoerder Lehlohonolo Thobela sê voorlopige data dui op rekords oor die Noord-Kaap, die Vrystaat en Noordwes.
- Intussen kan die El Niño-verskynsel moontlik vroeg Desember ’n piek bereik. Maar warm en droë weer sal voortduur tot ten minste Maart/April.
- In Namibië se Kunene-streek het swaar neerslae riviere laat afkom, maar die omgewing sal nie oornag herstel van ‘n nege jaar lange droogte nie. Die goeie reën laat boere wel moed skep. Goewerneur Marius Sheya voorspel die landbou sal die uitwerking van die seën van Bo eers in Februarie en Maart kan sien.
- Verbruikers slaak ’n sug van verligting danksy ’n daling in groente-oliepryse. Dit is ná ’n styging in beide plaaslike en wêreldwye groente-oliepryse verlede jaar. Wêreldwye groente-olie-inflasie het met 14% toegeneem met ’n maandelikse hoogtepunt van meer as 50% in Maart verlede jaar. Dit kan toegeskryf word aan die Rusland-Oekraïne oorlog wat handel ontwrig en beskikbaarheid op wêreldmarkte ingekort het aangesien dié twee lande die belangrikste uitvoerders is. Verlede maand was die koste van 750ml kanola- en sonneblomolie met 10% jaar-tot-jaar laer op R36.
- Vleispryse bereik wêreldwyd steeds nie die hoogtes van dieselfde tydperk verlede jaar nie. Die Australiese mark toon wel ‘n effense verbetering. OFM se Pieter Moller berig die vraag na rooivleis het ook daar toegeneem.
- Die Noord-Kaap se Veeartsenykundige Laboratorium behou weer sy akkreditasie ná 'n oudit deur die Nasionale Akkreditasiestelsel. Slegs nege tekortkominge is geïdentifiseer. Die provinsiale landboudepartement sê hierdie prestasie is verwesenlik deur samewerkingspogings tussen homself en die onlangs aangestelde Veeartsenykundige Tegnoloë. Woordvoerder, Phemelo Manankong, sê die laboratorium het sedert sy eerste akkreditasie 'n toename ervaar in die volume monsters wat van naburige provinsies ontvang is.
- Die wêreld vier volgende week Gronddag. Dié dag word jaarliks op 5 Desember herdenk om bewustheid op te skerp oor die belangrikheid en verhouding tussen grond en water vir volhoubare en veerkragtige landbouvoedselstelsels.