Agriculture
Waarom Suid-Afrikaanse rooivleis duurder is as ander proteïenbronne─── 05:00 Thu, 15 May 2025

Verbruikers kla dikwels oor die hoë prys van rooivleis in Suid-Afrikaanse winkels, maar volgens dr. Frikkie Maré, hoof uitvoerende beampte van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), moet hierdie prys in konteks gesien word.
Maré verduidelik die produksiesiklus van bees- en skaapvleis is baie langer en ingewikkelder as dié van vark of hoender, wat die koste aansienlik beïnvloed. “Die dragtigheidsperiode van ’n bees is nege maande, gevolg deur ’n speentyd van ongeveer sewe maande. Daarna volg nog vier maande in ’n voerkraal voor die dier geslag kan word – ’n proses wat byna twee jaar duur.”
Maré verduidelik verder die prysverskil tussen karkaspryse en rakpryse word dikwels verkeerd geïnterpreteer. Karkaspryse, wat gereeld in media gerapporteer word, verteenwoordig die onbewerkte vleis net ná slagting. Die duurder snitte soos filet en lamsrugtjops maak slegs ’n klein gedeelte van die karkas uit, terwyl goedkoper snitte soos stowevleis dikwels nie in dieselfde berekening ingesluit word nie.
“Ons maak ook die fout om die duurste snit, soos ’n filet of rugtjoppie, met die hele karkasprys te vergelyk. As jy die totale karkas in ag neem, lyk die prentjie anders.”
Verder moet BTW van 15% by die finale winkelprys bygereken word, en die volledige verskaffingsketting van abattoir tot winkelrak – wat vervoer, verwerking, verpakking en verkoeling insluit – dra by tot die koste. Maré skat die totale winsmarge in hierdie ketting is ongeveer 30% – soortgelyk aan ander verbruikersprodukte.
“Die marges in hierdie ketting is eintlik baie laag; die prys van die produk is nie abnormaal hoog nie. Dit bly net ’n stadige proses, ’n vars produk met ’n redelike klomp kostes om dit op die mark te kry.”
OFM Agri cg