Agriculture
Pluimveebedryf pak wanpersepsies oor braaikuikens─── 05:00 Fri, 16 May 2025

As deel van OFM Agri se reeks oor mites en wanpersepsies in die landboubedryf, hoor ons ook waarmee die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) te kampe het.
Izaak Breitenbach, hoof van die braaikuikenafdeling, vertel die eerste algemene wanopvatting is dat braaikuikens in klein draadhokke aangehou word. “Nee, hulle is vrylopend in hokke so groot as honderd-en-vyftig meter by ses-en-twintig meter. Hierdie hoenders kan skrop, loop, vlieg en interaksie hê met mekaar in hokke met ’n perfekte beheerde omgewing.”
’n Tweede algemene mite is dat alle braaikuikens gereeld met antibiotika behandel word. “Antibiotika mag net gebruik word as ’n veearts dit voorskryf en dan word antibiotika onttrek sewe dae voordat ons die hoender slag sodat daar geen residue op die vleis voorkom nie.”
Hy verduidelik die Suid-Afrikaanse pluimvee-industrie moet aan streng internasionale standaarde voldoen. “Ons volg ook ’n antibiotika verminderingsprogram wat voorgeskryf word deur die International Poultry Council, waarvan ons ’n lid is, om seker te maak dat ons aan wêreldstandaarde voldoen.”
Wat voedselveiligheid betref, het Breitenbach benadruk dat alle hoendervleis streng getoets word om te verseker dat dit vry is van gevaarlike residue en bakterieë. “Residue byvoorbeeld van antibiotika en groeistimulante word gemoniteer en produsente moet aan minimum vereistes voldoen.” Hy het ook bygevoeg dat die Suid-Afrikaanse pluimveebedryf op standaard is en dat plaaslike hoender voedsaam en veilig is vir verbruikers.
Breitenbach het verder uitgewys dat Suid-Afrika se hoenderbedryf een van die mededingendste ter wêreld is. “Ek kan onomwonde sê dat as ’n mens praat van Suid-Afrikaanse rande, dan kan jy nie ongestorte hoender enige plek in die wêreld goedkoper koop as in Suid-Afrika nie.”
Oor die kommer oor salmonella, het Breitenbach verduidelik dat hoenders met die vel aan verwerk word, anders as beesvleis waar die vel verwyder word. “Ons moet die vel skoonmaak met ’n produk soos chloor en dis hoekom ons in die algemeen bang is vir ’n verhoogde hoeveelheid bakterieë op die vel.” Hy het ook beklemtoon dat behoorlike kookprosedures die risiko van bakteriële infeksies drasties verminder.
OFM Agri cg