Agriculture
Nuwe rol van die boer – van prysnemer tot sleutelbesluitnemer─── 13:21 Thu, 15 May 2025

’n Suid-Afrikaanse landbouleier maan op Graan SA se NAMPO Oesdag dat landbou se persepsie van ‘ekonomiese minderwaardigheid’ gebreek móét word.
Johann Kotzé, uitvoerende hoof van AgriSA, het oor die nuwe rol van boere tydens Landbouweekblad se Plaaskombuisgesprekke op NAMPO Park gesels, oor die klemverskuiwing in landbou en die feit dat boere ’n groter impak kan hê as politici.
President Cyril Ramaphosa het vandeesweek NAMPO besoek, ’n gebeurtenis wat opnuut lig werp op die ware waarde van landbou in Suid-Afrika. Wat sou hy gesien het terwyl hy tussen die boere en hul uitstallings gestap het?
En dalk belangriker: Sou hy kon noem watter ander bedryf in die land hierdie vlak van uitnemendheid weerspieël?
Daar is nie een nie, sê Kotzé. As ’n mens byvoorbeeld mynbou vat en dit langs landbou neersit, gaan jy nie dieselfde toewyding, innovasie en gemeenskapsgees kry nie. “So, dit spreek van iets groter as wat ons dink ons is.”
Tog opper hy die vrees dat sulke erkenning dalk as arrogansie vertolk kan word – terwyl dit bloot die erkenning van landbou se werklike waarde in ’n nuwe ekonomiese bedeling is.
‘Dertig jaar gelede het politici boerdery verstaan – hulle het self geoes en beeste aangejaag’
In die vorige era van sterk staatsbeheer en sentrale besluitneming was georganiseerde landbou, soos die voormalige Suid-Afrikaanse Landbou-unie, nog die primêre stem tussen boere en politici. Dertig jaar gelede het politici boerdery verstaan – hulle het self geoes, self beeste aangejaag.
Vandag lyk die landskap anders. Politieke leiers verstaan dikwels nie meer die praktyke van boerdery nie.
En as jy iemand in die politieke sfeer moet oortuig van die dringendheid van landbou-kwessies soos paaie, silo’s of insetkoste, voel dit al hoe meer asof daardie boodskap net nie aanklank vind nie.
Dis in hierdie konteks dat ’n klemverskuiwing plaasgevind het – weg van die staat as bemagtiger, na die boer self. Waar die vorige geslagte boere gewag het op wat ministers sou aankondig – soos mieliepryse – is vandag se boer self die dryfveer van waarde.
Die modernisering van markte, die opkoms van selfregulering en die afskaffing van ou staatsmeganismes het tot gevolg gehad dat die boer van vandag ’n leier moet wees. Nie net op sy plaas nie, maar in die ekonomie. Nie net vir sy familie nie, maar vir die hele gemeenskap.
“Ek is van mening dat die boer vandag ’n groter impak kan hê as die minister want sodra ons onsself uitleef in hierdie passie en ek die leierskapsrol opneem as ’n boer, dan begin ek ekonomiese welvaart skep in die platteland.
‘Geweldige klemverskuiwing van staatsbeheer na markgedrewe deelname’
“Ons is besig om werksgeleenthede vir mense te skep. Ons is besig om by te dra tot die infrastruktuur van hierdie land,” sê Kotzé.
Daar was ’n geweldige klemverskuiwing van staatsbeheer na markgedrewe deelname. Hierdie skuif het die regering se rol verander, maar dit het die boer se rol dramaties versterk.
Die voorbeeld van ’n boer wat self ’n skool begin in sy gemeenskap – iets wat die regering eintlik moet doen – wys hoe die impak op die gemeenskap kan uitkring. Dit illustreer presies hoe landbou ’n hoofspeler word, nie ’n passiewe ontvanger van beleidstellings nie.
Hierdie verandering vereis ’n klemverskuiwing.
“As jy vir my in bankwese gesê het 3% (landbou se bydrae tot die BBP), dan het ek vir jou gesê wat wil jy maak met 3%? Dit is weglaatbaar. Maar as ek strategies met jou begin praat oor wat die impak van 3% is, dan gaan jy vir my sê, kan jy asseblief na die tafel toe kom en kom sit en praat.”
Kotzé is van mening dat ons moet afsien van die idee dat 3% bydrae tot die BBP ’n klein bydrae is. In isolasie lyk dit gering.
Nie onbeduidend nie
Maar as ’n mens die volle waardeketting in ag neem – van primêre produksie, tot verwerking, logistiek en uitvoer – dan besef ’n mens hoe geïntegreerd landbou is op elke vlak van die ekonomie. En dan besef jy ook: boere is nié onbeduidend nie.
“In die nuwe bedeling, waar besigheid ’n geweldige rol speel in die regering se funksionaliteit, gaan ons as landbou anderste oor onsself moet dink. Ons gaan onsself op ’n ander manier moet verpak om te sê ‘maar ek lewer ’n geweldige bydrae as landbou’.”
OFM Agri mvh