Agriculture
Twee nuwe bek-en-klouseer-gevalle in Vrystaat bevestig─── 07:34 Wed, 13 Aug 2025

Die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling het twee nuwe gevalle van bek-en-klouseer (BKS) by Viljoenskroon (Moqhaka-munisipaliteit) bevestig, met ’n moontlike derde geval wat nog wag op laboratoriumuitslae.
Een van die bevestigde gevalle is op ’n kommersiële plaas, terwyl die ander in ’n gemeenskaplike weiding langs die grens met Noordwes voorkom. Alle plase binne ’n 10 km-radius van die besmette plekke is onder streng bewegingsbeperkings geplaas en voorlopige kwarantyn is ingestel totdat ondersoeke voltooi is.
Die departement het inentings op die besmette plase en gemeenskaplike gebiede as prioriteit gestel. “Vinnige inenting van blootgestelde diere word uitgevoer om die virale lading te verminder en verdere verspreiding te beperk.
LEES OOK: Tweede uitgawe van rooivleisverslag werp lig op hernude bek-en-klouseer-risiko
“Toesig op omliggende plase in Moqhaka en Metsimaholo duur voort,” lui ’n verklaring.
In ooreenstemming met die Staatskoerant No. 51512 van 13 Junie 2025 en die Dieresiekteswet (Wet 35 van 1984), word boere, afslaers en spekulante versoek om:
- Beweging van geplete hoef diere te beperk.
- Streng aan bioveiligheidsmaatreëls te voldoen, insluitend ontsmetting van voertuie en toerusting.
- Nuwe vee vir 28 dae in kwarantyn te hou voor integrasie.
- Noukeurige rekord te hou van alle dierebewegings, voervragmotors en besoekers.
- Enige verdagte gevalle (oormatige speeksel, mondletsels, loopprobleme) onmiddellik by die plaaslike staatveearts aan te meld.
“Die BKS-virus kan nie self beweeg nie – dit versprei deur die beweging van diere en besmette voertuie. Samewerking is noodsaaklik om die veesektor van die Vrystaat te beskerm.”