Agriculture
Byeboerdery gerig op toekoms─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Tue, 02 Sep 2025

Diversiteit op die plaas kan vele vertakkings hê. Byeboerdery by The Apiary Project is een wat gerig is op die toekoms en die opheffing van gemeenskappe.
The Apiary Project, gestig met ‘n visie om gemeenskappe op te hef, voldoen daaraan met volhoubaarheid, opleiding, inkomste en die beskerming van natuurlike hulpbronne. The Apiary Project is ’n byeboerdery geleë in Pretoria.
Wat aanvanklik begin het as ’n klein projek met ’n paar byekorwe, het gegroei tot ‘n boerdery met meer as 300 korwe en ’n nasionale voetspoor. Alex van Rooyen, die eienaar met langer as vyf jaar ondervinding, se visie is om ’n leier te wees deur ontwikkeling, etiese praktyke, die verandering van lewens en die bewaring van bye en hul natuurlike habitat.
Projekte wat by dié boerdery voorkeur geniet is die opheffing van gemeenskappe en munisipaliteite om byeboerdery te bevorder. Dienste word ook gelewer met raad oor behoorlike korfbestuur, opleiding aan voornemende byeboere, jeugprogramme, produksie van heuning en etiese verwydering van ongewensde bye neste.
“Bye is baie noodsaaklik vir die omgewing en meer as 75% van alle gesaaides maak staat op bye se bestuiwing. Sonder bye sal voedselsekerheid dramaties afneem en bedreig word” sê Van Rooyen.
Daar word ook opleiding verskaf landwyd aan nuwe byeboere, wat insluit programme aan die jeug en vroue, wat opkomende byeboere is. Langtermyn-ondersteuning word ook gegee aan boere wat die verskaffing van kwaliteit-koninginbye betref. Groot sorg word aan die dag gelê met die etiese verwydering van ongewensde swerms en bye.
Logo van The Apiary Project. Foto verskaf
Die verskaffing van heuning word met groot sorg gedoen en gehalte is ’n voorvereiste vir dié boerdery. Byewas, waskerse, propolis produkte, byeteengif en apiterapieprodukte word ook verskaf.
Die gesondheidsvoordele van suiwer heuning sluit ondermeer in die versterking van die immuunstelsel, antibakteriese eienskappe, spysverteringsvoordele, natuurlike energiebron wat maklik deur die liggaam opgeneem word en die gebruik in skoonheidsmiddels, om maar ’n paar te noem.
Een van die hoogtepunte vir dié byeboerdery is dat daar alreeds meer as 30 werksgeleenthede by The Apiary Project geskep is.
Die uithaal van heuning met groot sorg gedoen. Foto verskaf
The Apiary Project sal eersdaags ook ’n hoogs gevorderde heuning-toetslaboratorium bedryf wat suiwerheid, vog en suikergehalte toets asook die medisinale en antibiotiese waardes van suiwer heuning.