Agriculture
Nuwe wêreldrekord én Lamb Champs Boland-wenner aangekondig─── ISABEL VAN TONDER 13:00 Thu, 25 Sep 2025

Die kroning van die Boland se Lamb Champs-wenners vanjaar het saamgeval met die behaling van ’n nuwe wêreldrekordprys vir ’n lamkarkas uit die Vrystaat.
Louis Botha met ’n Meatmaster van Cradock in die Oos-Kaap het met sy uitsonderlike lam die beoordelaars beïndruk en as wenner van die Lamb Champs Boland 2025 weggestap. Tweede was Nollie Stofberg met ’n Meatmaster van Fraserburg in die Noord-Kaap, en derde Loffie en Micheal Smuts met ’n Dormer van Moorreesburg in die Wes-Kaap.
Boonop is ’n Dorper-kruising, ’n lam van Pieter Cilliers van Philippolis in die Vrystaat, vir ’n verstommende R75 000 opgeveil, wat die vorige rekord van R63 000, opgestel by die Royal Skou in Pietermaritzburg, oortref het. Die koper was dié keer Kalahari Cuts.
“Hierdie rekord is steeds ver van wat mense bereid is om vir premium wyne te betaal, maar dit wys die groeiende erkenning van lam as ’n premium produk en die krag van Lamb Champs,” sê Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.
Pierre Cilliers, wie se lam die rekordprys behaal het, en Arina Knipe van die Kalahari Groep. Foto verskaf
Tessa Chamberlain, hoof van borgskappe by Pick n Pay, het gesê geleenthede soos dié is ’n herinnering aan die mate waarin kos gemeenskappe verbind, “van die boer wat elke kudde koester tot die gesinne wat om die tafel vergader”.
“Deur familieboere te ondersteun met inisiatiewe soos hierdie, vier ons nie net erfenis en uitnemendheid in lamsvleis nie, ons belê ook in die volhoubaarheid van plaaslike boerdery vir geslagte wat kom.
“Dit is ’n voorreg vir Pick n Pay om daardie storie direk na ons kliënte te bring,” het Chamberlain bygevoeg.
Familieboere bevorder
“Elke Lamb Champs-geleentheid is daarop gemik om die winsgewendheid van familieboerdery te verbeter, omdat dit die grootste bedreiging is vir die voortbestaan van klein- en mediumskaalse boerderye in Suid-Afrika,” het Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, gesê.
Die wenner sal nou meeding in die nasionale eindronde van Lamb Champs 2025 op 17 Oktober by Nampo Alfa in Bothaville. Alle wins uit die veiling en die verkoop van Lamb Champs-gemerkte lamsvleis in Pick n Pay-winkels gaan direk na familieboere.
Lamb Champs is een van die uitstallers by Nampo Alfa se Vee, Jag-en Buitelug-ekspo wat 16 tot 18 Oktober by Nampopark, net buite Bothaville plaasvind. OFM is die trotse mediavennoot van Nampo Alfa. Lees meer hier:
https://www.ofm.co.za/event/1731/nampo-alfa-2025-groter-en-beter-as-ooit-