Agriculture
NAMPO Alfa 2025: Vee, vaardigheid en volhoubaarheid in die kollig─── 11:07 Wed, 15 Oct 2025
Sponsored11:07 Wed, 15 Oct 2025
Die organiseerders van NAMPO Alfa beloof dat vanjaar se ekspo een van die mees omvattende aanbiedings nóg sal wees.
“Dis ’n eenstopgeleentheid waar boere inligting kan inwin, nuwe tegnologieë ontdek en sommer heerlik kan kuier tussen mense wat landbou leef. Ons is volstoom aan die gang en baie opgewonde oor wat hierdie jaar vir besoekers inhou,” sê Lizette Vermaak, organiseerder van die lewendehawe-afdeling.
Die vierde aflewering van Sentraal-Suid-Afrika se grootste lewendehawe-, jag- en buitelewe-ekspo vind van 16 tot 18 Oktober by NAMPO Park buite Bothaville plaas.
Een van die groot hoogtepunte is reeds op die openingsdag, Donderdag 16 Oktober, wanneer die Landbouweekblad Vee-akademie plaasvind. Die land se voorste bedryfskenners en boere deel praktiese oorlewingstrategieë en suksesresepte.
Charl Saunderson, aanbieder van die gewilde “Kom ons praat ’n bietjie boer”-insetsel op OFM se Agri Uur, is een van die gassprekers. Plekke vir die Vee-akademie moet vooraf via Quicket bespreek word.
Op Donderdag en Vrydag van 08:00 tot 16:00 vind die Farm Skills-kompetisie plaas, waar leerders meeding in onder meer kaskarkonstruksie, trekkerfoutvind, ploeg en skaapskeer. Wenners word Saterdag om 14:00 aangekondig.
Die Junior Landbou Jeugparade begin daagliks om 11:00, gevolg deur die Jeugskou om 12:00. Die Old Mutual Wealth Nasionale Interras-kampioenskap, wat bekend staan as die “Curriebeker van die veebedryf”, vind Vrydag 17 Oktober vanaf 15:00 plaas.
Hier kom agt inskrywings van tien landbouskoue en ses verskillende rasse teen mekaar te staan vir die titel van nasionale kampioen.
Die vier Lamb Champs-streekswenners kom ook Vrydag teen mekaar te staan, terwyl die Suid-Afrikaanse Varkvleisprodusente-organisasie se gewilde Spek Gesprek op Saterdag, 18 Oktober plaasvind.
Die kleinvee-afdeling is vanjaar volledig met wolklas- en skeerkompetisies, baaldra en wolhanteringsdemonstrasies. In die beesafdeling moes organiseerders uitdagings met bek-en-klouseer hanteer, maar volgens Vermaak is streng biosekuriteitsmaatreëls ingestel om diere en besoekers te beskerm.
“Alle diere word deur veeartse ondersoek voor toelating, en daar is voetbaddens by ingange om kruisbesmetting te voorkom. Ons vra dat besoekers asseblief nie aan die diere raak nie – bloot om risiko’s te beperk,” sê Vermaak.
Daaglikse demonstrasies sluit in skaaphonde, beeshonde en perde wat hul vaardighede vertoon. Arabiere, Appaloosas en Boerperde sal ook in aksie wees.
Jeugprogram en plaasvaardigheidkompetisie
“Verder is daar meer as 200 uitstallers in die jag- en buitelewe-afdeling, met nuwe toevoegings soos skyfskiet-, liggeweer- en kleiduifkompetisies wat veral op jong besoekers gemik is.”
Die jeugprogram kry vanjaar groot aandag. ’n Hoogtepunt is die eerste Nasionale Plaasvaardigheidskompetisie, waaraan 16 landbouskole en sowat 200 leerders deelneem.
“Die kompetisie toets praktiese vaardighede – van trekkerbestuur en foutopsporing tot skaapskeer, karkasbou en plantidentifikasie. Dit gee leerders die kans om wat hulle in die klaskamer leer, in die praktyk toe te pas.”
Die projek word ondersteun deur Laeveld Agrochem en die Suid-Afrikaanse Onderwysvereniging vir Landbou (SAOF). Daarby word die Voermol Jeugskou en Zoetis Jeugparade weer aangebied – platforms waar jong boere hul diere met trots aan die publiek kan bekendstel.
Volgens Vermaak dra sulke inisiatiewe by tot jeugontwikkeling en belangstelling in landbouloopbane. “Die landboujeug is ons toekoms, en ons wil graag daarin belê,” sê sy.
Kaartjies vir NAMPO Alfa is beskikbaar by Open Tickets.
OFM is die trotse mediaborg van NAMPO Alfa 2025. Kliek hier om meer oor die ekspo te lees.