On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Wynbedryf vier merkwaardige prestasies

───   ISABEL VAN TONDER 14:01 Fri, 21 Nov 2025

Wynbedryf vier merkwaardige prestasies  | News Article
Suid-Afrikaanse wynplase spog met besondere prestasies. Foto: Pexel

John Steenhuisen, minister van landbou, is vol lof vir nog ’n merkwaardige prestasie van Suid-Afrikaanse wynplase.

Die plaaslike wynbedryf het ses plekke op die top-100-lys van die World’s Best Vineyard 2025 behaal. “Ons het nog altyd geweet ons het uitstekende wyn en hierdie uitsonderlike prestasie, ses van ons wynlandgoedere wat plekke onder die wêreld se beste verseker het, is ’n klinkende bevestiging van die konsekwente standaarde en innovering in ons wyntoerisme,” sê Steenhuisen.

Twee wingerde het die toptien-lys gehaal. Die Klein Constantia-wynlandgoed in die Wes-Kaap is aangewys as die Beste Wynplaas in Suid-Afrika en is ook die ontvanger van die Highest Climber Award. 

Hierdie landgoed is nou sesde op die wêreldranglys. Dit het met 35 plekke teenoor 2024 gestyg.

Die wynbedryf het ongeveer 11 000 poste op plaasvlak geskep. Foto: Pexel

Creation, in die Hemel-en-Aarde-gebied in die Wes-Kaap, is sewende op die wêreldranglys. Dié landgoed het die streeksafdeling oorheers en is verlede jaar as die beste wynplaas aangewys.

Vier plaaslike wynplase het die die uitgebreide 51-100-lys gehaal:

  • die Tokara-wyn-en-olyflandgoed (71ste);
  • die Delaire Graff-landgoed (79ste);
  • die La Motte-wynlandgoed (94ste); en
  • Hamilton Russell Vinyards (99ste).

“Ons huldig die toewyding van die spanne by al ses wynplase om die Suid-Afrikaanse handelsnaam op die wêreldverhoog te laat meeding. Danksy hul verbintenis tot uitnemendheid produseer hulle nie net wêreldbekende wyne nie, maar verbeter hulle ook ons reputasie as ’n voorste bestemming vir wyntoerisme.”

Steenhuisen beklemtoon ook die belangrike bydrae van wynplase tot nasionale en streeksontwikkeling. 

“Die wynsektor toon robuuste groei en het ongeveer 11 000 poste op plaasvlak en 40 108 werkgeleenthede geskep. Wyntoerisme maak nou 17,3% van die algehele omset van alle druiweverwerkingskelders in Suid-Afrika uit. 

“Dit is geen verrassing dat ons binnelandse mark die grootste dryfveer vir wyntoerisme is nie. Plaaslike besoekers maak 58% van alle besoekers aan die Kaapse Wynland uit.”

Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

OFM Agri/Isabel van Tonder dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.