Agriculture
NWK se wins daal ná oorvloedige reën─── ISABEL VAN TONDER 12:09 Tue, 02 Dec 2025
Hoewel vanjaar ’n uithaler-landboujaar is, het oormatige reën in belangrike produksiefases NWK se wins gedemp.
Die mielie- en sojaboon was wel bogemiddeld. Die gehalte van eersgenoemde en die opbrengs van sonneblom was egter ondergemiddelde, juis weens die oorvloedige reën.
Volgens NWK Beherend Bpk. se tussentydse finansiële resultate het die maatskappy se graansegment teen 31 Oktober ’n wins van R36 miljoen behaal, vergeleke met R77 miljoen teen 31 Oktober 2024. Dit kan grootliks toegeskryf word aan die laat oes, die oordrag van lae voorraadvlakke asook premies en drakoste van bemarkingsvoorraad wat waarskynlik in die volgende ses maande verhaal sal word.

Mielie-oeste was bogemiddeld vanjaar. Foto: Pexel
Volumes wat ontvang is, was beduidende hoër as in die vorige seisoen. Die tweede helfte van die boekjaar voorspel dus ’n rooskleuriger prentjie.
Teen 31 Oktober het die NWK groep se gekonsolideerde inkomste op R3,014 miljard (R2 943 miljoen teen 31 Oktober 2024) en sy gekonsolideerde nabelaste wins op R5 miljoen (R69 miljoen teen 31 Oktober 2024) te staan gekom. Die handelsegment se inkomste het met 11% gegroei danksy ’n inkomste van R1,725 miljard, wat die wins op R54 miljoen te staan gebring het.
Die maatskappy herposisioneer sy brandstof-kleinhandelonderneming om ook brandstof op plase af te lewer, wat ruimskoots bygedra het tot ’n wins van 80%. Meganisasie het uitstekend herstel nadat dit die vorige jaar in die rooi was. Insetverskaffing, wat die maatskappy se aanbod van saad, chemie en vloeibare kunsmis insluit, het beter as verwag presteer.
Optimistiese klimaatsvooruitsigte
Die gebrekkige gehalte van sonneblomsaad het gelei tot Epko Oil Seed Crushing se verlies van R70 miljoen. Dié sonneblompers het teen 31 Oktober 2024 met ’n wins van R27 miljoen gespog.
Die maatskappy se direksie en bestuur is optimisties oor die res van die boekjaar vanweë gunstige klimaatsvooruitsigte en innoverende produk- en diensaanbiedinge, soos die DJI T100- hommeltuig deur Ag Tech@NWK, asook die verbeterde drogingsvermoë by van die silokomplekse.
’n Dividend van 23 c/aandeel (R25 miljoen in totaal) is verklaar.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

