On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Tyd raak min vir Jongboer van die Jaar-kompetisie

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Tue, 26 May 2026

Tyd raak min vir Jongboer van die Jaar-kompetisie | News Article
Die TLU SA Jongboer van die Jaar-kompetisie sluit op 19 Junie. Foto: Pexel.com

Inskrywings vir TLU SA se Jongboer van die Jaar 2026-kompetisie sluit op 19 Junie.

Jong produsente landwyd word aangemoedig om van die geleentheid gebruik te maak om deel te word van een van georganiseerde landbou se gesogste kompetisies. Die kompetisie het met die jare ’n belangrike platform geword.

Dit huldig jong boere vir uitnemende bestuursvernuf, deursettingsvermoë, innovasie en hul bydrae tot voedselsekerheid in Suid-Afrika.

“Ons sien jaar na jaar jong boere wat onder moeilike omstandighede steeds uitnemend presteer,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. “Hierdie kompetisie gee erkenning aan mense wat bereid is om verantwoordelikheid vir die land se voedselsekerheid te aanvaar en wat dag vir dag bewys dat Suid-Afrika steeds uitstekende jong produsente het.”

Jong boere moet nie hulself onderskat in die boerderywêreld nie. Foto: Pexel.com

Die kompetisie gaan oor veel meer as bloot goeie oeste of mooi toerusting, vertel hy. Tydens plaasbesoeke deur die beoordelaars van 13 tot 17 Julie word finaliste op hul plaas besoek, waar verskeie aspekte van hul boerdery beoordeel word.

Die beoordeling sluit finansiële bestuur, arbeidsbestuur, tegnologie en meganisasie, risikobestuur, veiligheid, instandhouding, innovasie, funksionele doeltreffendheid, bemarking en gemeenskapsbetrokkenheid in.

“Wanneer beoordelaars ’n plaas besoek,” vertel Van Zyl, “kyk hulle na die volledige bestuur van die boerdery. Dit gaan oor visie, beplanning, dissipline, verantwoordelike besluitneming en die vermoë om volhoubaar te produseer.

Groot pryse kan weer vanjaar gewen word met TLU SA Jongboer van die Jaar-kompetisie. Foto: Pexel.com

“Ons wil jong boere identifiseer wat nie net vandag suksesvol boer nie, maar wat ook besig is om die grondslag vir die toekoms van landbou te lê.”

Vorige wenners en finaliste is mense wat vandag steeds groei, uitbrei en die voortou neem, voeg Van Zyl by. “Baie dien vandag in verskillende strukture binne georganiseerde landbou en bly ’n voorbeeld vir ander jong produsente. Dit wys die waarde van die kompetisie en die kwaliteit van die deelnemers.”

Van Zyl vra jong produsente moenie hulself onderskat nie, al dink baie hulle is nog nie gereed nie of dat hul boerdery nie groot genoeg is nie.

Vanjaar se kompetisie bied weer indrukwekkende pryse aan deelnemers wat dit beslis die moeite werd maak om in te skryf!

TLU SA glo jong produsente speel ’n sleutelrol in die toekoms van Suid-Afrikaanse landbou. ’n Platform soos die jong boer van die jaar help om die opkomende geslag boere aan te moedig en te ontwikkel.

Besoek TLU SA se webtuiste vir nog inligting.

OFM Agri/Isabel van Tonder sm

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.