Agriculture
Suid-Afrikaanse wynbedryf trotseer klimaatdruk met premiumgehalte-oes─── ELSABÉ RICHARD 11:36 Thu, 21 May 2026
Die 2026-oes bied ’n keerpunt vir die bedryf, meen ’n bedryfsorganisasie.
Die klem verskuif vanjaar verder as veerkragtigheid na hernude geleenthede en groei, sê South Africa Wine. Die uitdagings versterk Suid-Afrika se posisie as ’n produsent van premiumwyne vir wêreldwye markte.
Die 2026-druiweoes word op 1,37 miljoen t geraam, ’n matige herstel van 2025, danksy onder meer beter wingerdprestasie, terwyl die ingesteldheid op gehalte en waarde gehandhaaf word.
Hoewel die bedryf vanjaar groot klimaatuitdagings ervaar, soos droë toestande en swaar reënval oor dele van die land, kan hy steeds daarin slaag om wyn van uitsonderlike gehalte, konsentrasie en balans te produseer.
“ 'n Warm, droë groeifase het sterk wingerdontwikkeling en vrugset ondersteun, terwyl reënval in Februarie noodsaaklike verligting aan waterarm streke gebied het, maar ook siektedruk in sekere gebiede veroorsaak het, wat versigtige bestuur vereis.
“(Die reën is opgevolg) deur periodes van uitermatige hitte in Maart, wat rypwording versnel en oestydperke verkort het. Dié dinamika het presiese wingerd- en kelderingrypings geverg, wat eindelik gelei het tot kleiner bessies, gekonsentreerde geure en uitstekende kwaliteitspotensiaal in die meeste streke.”
Uitdagings wag op 2026-bemarkingseisoen
Die nasionale wynbedryfliggaam sê die 2026-bemarkingseisoen begin midde-in moeilike wêreldhandelstoestande, met wynmarkte wat onder oorvoorsiening, swakker verbruikersvraag en volgehoue druk op pryse gebuk gaan. In dié omgewing het Suid-Afrika se vermoë om konstante gehalte oor verskillende wynstyle en prysklasse heen te bied, al belangriker geword.
Hoewel die sterk gehalte en omvang van die oes nuwe geleenthede skep, bly die bedryf toegespits op die versigtige bestuur van aanbod, die volhoubare groei van waarde en die beskerming van die langtermyn-reputasie van Suid-Afrikaanse wyn, eerder as om korttermynverkope deur groot afslag na te jaag.
Rico Basson, uitvoerende hoof, sê Suid-Afrika se strategie is toegespits op premiumwyne, markdiversifisering en mededingendheid op lang termyn.
Die bedryf se krag lê in gehalte, konsekwentheid en diversiteit, voeg hy by. Sowat 60% van Suid-Afrikaanse wyn word plaaslik verbruik en uitvoer bereik meer as 120 lande.
OFM Agri/Elsabé Richard-May sm
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
