On Now
Weekends 20:00 - 22:00
Sunday Night OFM
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Agriculture

Vrystaat Landbou vra samewerking teen bek-en-klou in feestyd

───   ISABEL VAN TONDER 12:01 Sun, 14 Dec 2025

Vrystaat Landbou vra samewerking teen bek-en-klou in feestyd | News Article
Wees bedag op waar jou vleisprodukte vandaan kom die Kerstyd, sê VL. Foto: Pexel

Samewerking oor ’n wye front word aangemoedig om die uitwerking en verspreiding van bek-en-klouseer in die feestyd te bekamp.

 John Steenhuisen, minister van landbou, het onlangs verklaar alle beeste moet ingeënt word om kudde-immuniteit te bereik. Hy beklemtoon dit is ’n nasionale prioriteit om die uitwerking van die siekte te beperk.

Dit is egter nie ’n kitsoplossing nie, sê Vrystaat Landbou (VL). Kundiges waarsku dit kan tussen ses maande en ses jaar duur om die virus weer tot endemiese gebiede te beperk.

Intussen word boere aangemoedig om streng biosekerheid en bewegingsbeheer toe te pas en nou met staatveeartse saam te werk.

‘Bek-en-klouseer raak ons almal’

“Bek-en-klouseer raak ons almal,” sê Friedl von Maltitz, visepresident van VL en beesboer in die Vrystaat. Boere wie se vee besmet raak, ly enorme geldelike verliese omdat hulle nie diere onder kwarantyn mag verkoop nie.

“Stoetboere kan nie meer hul jaarlikse produksieveilings hou nie – dit belemmer genetiese vordering. Handelsvennote staak alle invoer uit ’n verklaarde provinsie, wat die rooivleiswaardeketting en belastinginkomste direk beïnvloed.”

VL vra die polisie en weermag om hul pogings te verskerp om dierebeweging te beheer. Staatsveeartse werk dag en nag om besmette diere in te ent en is veral bekommerd oor die toename in die beweging van bakkies met sleepwaens en ook ander vervoer van diere in en deur besmette gebiede gedurende die feestyd.

Bek-en-klouseer raak elke mens, nie net die boere nie.  Foto: Pexel

VL ondersteun die nagaan van alle dierebeweging by padversperrings. Diere moet geldige brandmerke hê, asook die nodige dokumentasie en dieregesondheidsverklarings soos vereis ingevolge die Wet op Diere-identifikasie, die Wet op Veediefstal en die Wet op Dieregesondheid.

“Terwyl ons Versoeningsdag op 16 Desember vier, met die gebruiklike braai en Kersfees wat volg, moet ons bedag wees op waar ons wêreldklas-vleisprodukte vandaan kom,” sê dr. Jack Armour, kommersiële bestuurder van VL. Hy vra die publiek om hul vleis deur formele, wettige kanale aan te koop en om nie die onwettige handel in en verwerking van vleis of veediefstal te ondersteun nie.

“Almal kan hul deel doen om te keer dat siektes onder ons nasionale kudde versprei.”

Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

OFM Agri/Isabel van Tonder cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.