Agriculture
Bek-en-klouseer styg steeds in Vrystaat─── ISABEL VAN TONDER 11:47 Mon, 15 Dec 2025
Die aantal gevalle van bek-en-klouseer in die Vrystaat staan nou op 141.
Altesaam 13 afsonderlike uitbrekingsgebiede is geïdentifiseer, wat strek oor agt plaaslike munisipaliteite, sê die departement van landbou en landelike ontwikkeling. Die Noord-Vrystaat loop die ergste deur, spesifiek die Viljoenskroon/Vredefort-gebied met 50 gevalle, gevolg deur Deneysville/Sasolburg met 30 en Parys/Vredefort met 22.
By Cornelia/Frankfort en Kroonstad is tien gevalle elk aangemeld, ses by Edenville en drie by Bothaville. Clocolan, Heilbron, Tweeling en Vrede het twee gevalle elk en Odendaalsrus en Marquard een elk.
Die departement gee voorkeur aan die inenting op besmette plase en het onmiddellik begin om virale lading en verspreiding te beperk.

Die bek-en-klouseer gevalle styg steeds en raak elkeen, nie net boere nie. Foto: Pexel
Bewegingsbeperkings is ingestel op alle plase binne ’n 10 km-radius, en die besmette plase is onder kwarantyn geplaas.
Die departement vra boere, bedryfsvennote en alle belanghebbendes moet saamwerk om dié siekte te bekamp.
Dit sluit in die identifisering en voorkoming van enige onwettige beweging van diere en die onmiddellike aanmelding van enige moontlike gevalle.
Misdaad om dié vee te skuif
Met verwysing na die Staatskoerant, nr. 51512 van 13 Junie, en die Dieresiektewet vra die departement boere, afslaers en spekulante moet die beweging van hoefdiere beperk, streng biosekerheidsmaatreëls nakom, nuwe vee 28 dae in kwarantyn hou en noukeurig boekhou van alle vee.
Enige verdagte gevalle moet so gou moontlik by die staatsveearts aangemeld word.
Die departement herinner mense daaraan om diere onder kwarantyn en sonder die nodige dokumentasie te verskuif, is ’n misdaad. Dié maatreëls is lewensbelangrik om die veebedryf te beskerm.

