On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
Show Background
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Hoop op die landerye, spanning in die balansstate

───   ISABEL VAN TONDER 10:58 Sun, 28 Dec 2025

Hoop op die landerye, spanning in die balansstate | News Article
Graanproduksie is die kern van die voedselketting in Suid-Afrika. Foto: Pexel

Somergraangebiede is tans in ‘n goeie toestand, maar die krisis lê in die harde ekonomiese werklikheid van graanproduksie, waarsku Graan SA.

Produsente ervaar toenemende spanning weens ‘n kombinasie van lae graanpryse, skerp stygende insetkoste en buitensporige uitgawes aan meganisasie.

Die ekstra koste van oorplantings weens waterversadigde landerye en standskade plaas ook groot druk op produsente. “Daar is plekke waar gewasse belowend lyk, maar produsente weet: ‘n mooi landery waar die som nie klop nie, is nie ‘n volhoubare landery nie,” sê Richard Krige, voorsitter van Graan SA.

Nat lande, beperkte groei, duur besluite

In verskeie somergraanstreke het volgehoue reënval en hoë watertafels tot uiters nat landerye gelei. Dit het onder andere aanplanting vertraag of tot 'n stilstand gebring, toegang vir onkruidbeheer en opvolgbespuiting beperk, waterskade in laerliggende gebiede veroorsaak en in sommige gevalle produsente gedwing om vir 'n tweede keer te herplant.

Oor alle produksiegebiede heen is die boodskap duidelik: winsmarges is tot breekpunt onder druk. In verskeie gebiede benodig produsente bo-gemiddelde oeste om gelyk te breek. Die grootste kostes wat produsente snags wakker hou is meganisasiekostes (vervanging van masjinerie, onderdele en herstelwerk) chemiese middels, saad en kunsmis wat jaarliks meer as die inflasiekoers toeneem, en energie (diesel en elektrisiteit).

Graanboere wurg onder stygende produksiekostes. Foto: Pexel

In die noordwestelike produksiegebiede is die seisoen tot dusver oorwegend nat, met weeklikse reënval wat goeie ondergrondse vog en sterk groei ondersteun. Aanplantings is in baie gebiede byna voltooi, maar hoë grondwatertafels en swaar, nat grond hou produsente steeds in sekere dele uit hul landerye.

Met die optimale planttydperk wat sluit en nat toestande wat voortduur, oorweeg sommige produsente om die oorblywende hektare later in die seisoen met sonneblom te plant.

Die grootste druk op graanprodusente is steeds ekonomies: Produsente sê reguit dat hulle nie die kostes kan dra met die huidige pryse nie. In sommige gebiede word die druk verder vererger deur graan van die vorige seisoen wat steeds in silo's gestoor word, wat kontantvloei en die vermoë om die nuwe seisoen behoorlik te finansier, ernstig beïnvloed.

In die noordoostelike gebiede vertoon gewasse in baie dele aanvaarbaar tot goed. Die koste-knyptang is egter die grootste faktor met insetkostes vir mielies en sojabone wat reeds op problematiese vlakke is. Produsente in verskeie gebiede noem ook toenemende kommer oor bek-en-klouseer wat ‘n bykomende risiko vir gemengde boerderystelsels kan meebring.

Foto: Raphael Rychetsky/Unsplash

In die Oos-Vrystaat en Wes-Vrystaat  staan gewasse mooi maar swaar grond en aanhoudende nat toestande plaas ‘n groot rem op aanplantings. Insetkostes is nie winsgewend nie, opvolgbespuiting verhoog uitgawes en die druk op produsente is tasbaar.

'Graanproduksie is kernpilaar van voedselsekerheid'

Graan SA beklemtoon dat plaaslike graanproduksie ‘n kernpilaar van voedselsekerheid en landelike ekonomiese stabiliteit is. Die boodskap is duidelik: “Produsente kan nie net op ‘n goeie seisoen hoop nie – hulle moet ook finansieël kan oorleef en daarom is ‘n meer realistiese verhouding tussen pryse en koste broodnodig,” sê Graan SA.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Agri/Isabel van Tonder


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.