On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch James
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Bethlehemse navorser en koringteler ’n nasionale uitblinker

───   SUSAN MARÉ 10:32 Thu, 02 Apr 2026

Bethlehemse navorser en koringteler ’n nasionale uitblinker  | News Article
Koringstroop in Suid-Afrika. Foto: Albert Marais

’n Koringteler en -navorser van ’n bekende landbou-onderneming op Bethlehem werk al byna drie dekades in koringnavorsing en -teling. Elaine van Eeden is ook bekend as die eerste vroulike plantteler in dié onderneming se geskiedenis.

Van Eeden is in 2025 vir haar werk bekroon toe sy die Future Agri Perspectives Women’s Voice-kompetisie gewen het. Dié nasionale erkenning benadruk haar rol as ’n invloedryke stem in die landboubedryf. Sy werk reeds 22 jaar by haar huidige werkgewernadat sy vir sewe jaar by die LNR Kleingraaninstituut naby Bethlehem gewerk het .

Van Eeden het op Bethlehem grootgeword en het van kleins af ’n besonderse belangstelling in saad en plante gehad. Haar liefde vir plante kom van haar ouers en familie. Sy bedryf in haar vrye tyd ’n groot groente- en kruietuin op die plaas tussen Bethlehem en Fouriesburg waar sy en haar man, Freek, en hul seuns, Albert en Erik, woon.

Sy het as kind al ’n passie gehad vir plantjies en altyd sade versamel. Sy kon ure op haar grootouers se plaas deurbring waar die wonders van plante en die natuur haar verbeelding aangegryp het. Sy het die sade wat sy versamel het, gekatalogiseer en in haar verbeelding gesien hoe hulle volwaardige plante word.


Sy het 1995 aan die Bethlehem Voortrekker Hoërskool (BVHS) gematrikuleer en praat steeds met lof van oud-onderwysers soos Gerhardus Bosch (biologie), Vidi Engelbrecht (biologie) en Alo du Toit (skeinat) wat wêrelde vir haar oopgemaak het.

Ná matriek het Van Eeden éérs gewerk en toe studeer. Sy het haar graad in landbouwetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) voltooi en in koringteling gespesialiseer. Haar MSc-graad in plantteling is ook aan die UV voltooi onder leiding van haar mentor, prof. Maryke Labuschagne.

Om spesifiek in koring te spesialiseer was vir haar ’n strategiese besluit. Dit is een van die belangrikste gewasse in Suid-Afrika en ook ’n stapelvoedsel wat deurlopende innovasie benodig.

Elaine van Eeden. Foto: Susan Maré

OFM Nuus het op die navorsingsplaas Marne,  geleë op die Kaallaagtepad buite Bethlehem, met Van Eeden gesels. Grootskaalse verbeterings en aanbouings word die afgelope tyd hier gedoen om al die aksies rondom navorsing beter te ondersteun.

Die mark vir gewasse soos koring en sonneblom groei aansienlik, sê Van Eeden en die belegging in nuwe fasiliteite en toerusting op die navorsingplaas versterk navorsers se hand.

Hierdie nuwe fasiliteite sluit ’n groter laboratorium in om die gehaltetoetsing van koring en sonneblom te verbeter. Die kombinasie van saad en chemie lei tot gesamentlike projekte op die plaas. Die groter belegging in die navorsingsgerief in Bethlehem sluit ook verbeterde toerusting in tot voordeel van meer as een gewas.

'Mark vir gewasse soos koring en sonneblom groei aansienlik'

Van Eeden sê die onderneming dra nie net by tot Suid-Afrika se voedselsekerheid nie, maar ook tot die plaaslike ekonomie deur werkverskaffing en vaardigheidsontwikkeling op die plaas. “Koringteling in Suid-Afrika is van kardinale belang as die tweede belangrikste graangewas, naas mielies. Die land kan nie heeltemal in die aanvraag voorsien nie en voer jaarliks koring in."

Koring van ’n hoë gehalte word ook aan buurlande verskaf omdat die koringbedryf daar nie welvarend is nie. Hoëgehaltekoring is ’n direkte gevolg van plaaslike teling, sê Van Eeden. Plaaslike siektes verskil van dié in ander lande, daarom word siekteweerstand deur teling en DNS-tegnologie gemonitor en verbeter.

Suid-Afrika se diverse klimaatstreke waar koring verbou word, is ook ’n belangrike faktor by koringteling. “Die waardeketting is interafhanklik met navorsingsinstansies, boere, meulenaars en bakkers wat almal winsgewend moet wees om volhoubaarheid te handhaaf. Alles en almal saam wil eindelik voedselsekerheid in Suid-Afrika bevorder,” sê Van Eeden.


Koringteling vind nie in isolasie plaas nie en verskeie belanghebbendes soos telers, patoloë, entomoloë, gehaltespesialiste en ander beroepsvaardighede is nodig. Die werk is gemik op ’n hele waardeketting van die boer, meulenaar tot bakker.

“Hoe beter jy teel vir die meulenaar, hoe beter is die eienskappe van die brood se deeg. Die impak wat teling het sodat mense kan eet, is enorm. ’n Goeie brood op die rak is die gevolg van ’n hele klomp kwaliteitseienskappe wat met geduld en tyd behaal is,” sê sy.

Van Eeden beklemtoon ook die rol van vroue in die landbousektor. Sy glo vroue bring besonderse eienskappe na die planttelingbedryf. "Hulle het ’n fyn oog vir detail en ingeboude, versorgende kwaliteite wat waardevol is." 

Plantteling verg baie geduld. Soms neem dit nege tot twaalf jaar voordat ’n nuwe kultivar gereed is vir kommersialisering.

Glansgeel koring word gestroop. Foto: Albert Marais

Soos alle werkende vroue het sy ’n sterk ondersteuningstruktuur nodig. Haar gesin is haar anker, sê sy. Haar man verstaan die eise van die bedryf en sy steun is onvoorwaardelik. Op haar beurt ondersteun sy hom met sy boerdery-aktiwiteite.

Tuis op hulle plaas is dit steeds plante wat haar inspireer. Sy hou van tuinmaak en bedryf ’n florerende groentetuin. Sy koester haar persoonlike lewe en is ook saam met haar man en kinders betrokke by die bedryf van ’n wild- en veeplaas en gastehuis in die Oos-Vrystaatse berge.

Die byna drie dekades wat sy in landbou is, het haar lewe verryk. Sy voel geseënd en haar raad aan ander vroue in die bedryf en jong mense wat droom oor ’n loopbaan in landbou is om nooit hul drome prys te gee nie.

Oor die toekoms van landbou is Van Eeden positief. “Ten spyte van al die moeilike omstandighede en uitdagings waar boere dit nie maklik het om voedsel vir ons land te produseer nie, is ons steeds in ’n bevoorregte posisie in ’n tyd waar baie data beskikbaar is.

“Ons het die mees veerkragtige boere en kundiges in die wêreld. As almal saam hande vat glo ek ’n mens kan nie anders nie as om positief te wees nie oor landbou in Suid-Afrika. Die basiese behoefte is dat mense moet eet, en dit is ons boere wat aan hierdie behoeftes voorsien.

“As koringtelers en navorsers van graangewasse is dit ons bydrae om gehalte-ondersteuning aan boere te lewer sodat Suid-Afrika se gewasse in al die streke geil, produktief en volhoubaar sal wees,” sê Van Eeden.

OFM Nuus/Susan Maré sm

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.