Agriculture
RPO-Vrystaat vra boere moet kalm bly─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Wed, 21 Jan 2026
Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) sê boere moet nie paniekerig raak oor die bek-en-klouseer-uitbreking in die Vrystaat nie, al is die aantal gevalle tans dubbel dié van ’n jaar gelede.
“Bek-en-klouseer is ’n staatsbeheerde siekte,” sê PD Cilliers, voorsitter van die RPO se dieregesondheidsforum in die Vrystaat. “Die siekte het buite die sogenaamde rooilyn versprei – en tot vandag toe kon niemand van die staat vir my presies sê waar en wat die rooilyn is nie.”
Cilliers meen die owerhede het nie beheer oor die uitbreking nie, al is die regering se nuwe tienjaarplan wel ’n stap in die regte rigting. Hy is egter bekommerd oor die staat se prioriteite.
“Die regering is meer besig met lande soos Iran en Venezuela as met wat by ons plaasvind. Voedselsekerheid is ’n groot probleem wat net eenvoudig nie aandag kry nie.”
Entstof, korrupsie en boereseer
Volgens Cilliers kan die beoogde invoer van entstof dalk weer ruimte skep vir korrupsie. “Ons weet nie wat dit die boer gaan kos nie, maar ek vermoed dit gaan nie goedkoop wees nie.”
Hy verwelkom John Steenhuisen se aanstelling van Willie Aucamp as minister van bosbou, visserye en omgewing.
“Aucamp is self ’n wildboer en verstaan die bedryf. Steenhuisen moet erkenning kry waar dit toekom, maar ongelukkig word hy mislei deur mense wat geen idee het van grondvlak-uitdagings nie.”

Bek-en-klouseer eis sy tol in die ekonomie van die Vrystaat. Foto: Pexel
Cilliers meen ’n ramptoestand gaan nie help nie.
“Voedselsekerheid is reeds onder druk. Net in die Noord-Kaap kom bek-en-klouseer nie voor nie.”
Skuiwe, veilings en protokolle
Die enigste voordeel van ’n ramptoestand sou wees dat dit protokolle bevestig, sê hy.
“Spekulante moet daardie protokolle nakom en mag nie sommer net vee rondskuif nie. Veilings moet ook volgens die reëls verloop.”
Hy stel voor dat beeste soos wild verkoop word – deur middel van katalogusveilings. “Die risiko’s sal minder wees en die stelsel kan werk.”
Oproep tot samewerking
Cilliers sê dis nou die tyd vir boere om saam te staan. “Boereverenigings speel ’n sleutelrol om brandpunte te identifiseer, inligting te deel en hul lede te ondersteun.”
Hy waarsku boere om nie op instellings soos hul koöperasies of die Landbank te staat te maak nie. “Jy is op jou eie. Jy moet op jou familie en jou boerevereniging steun.”
“Die RPO bestry daagliks vals inligting. Gaan jou boerdery deeglik na – van A tot Z.
LEES OOK: RPO bekommerd oor bek-en-klouseer
“Verkoop nou die diere wat jy nie die winter kan voer nie. Die pryse is goed, moenie wag nie.”
Sy raad aan boere: “Hou kop bo water. Sit om die tafel met mense wat jou passie deel.
“Vra die regte vrae. Bereken jou risiko’s.”
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

