On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

RPO Vrystaat vra boere moet kalm bly

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Wed, 21 Jan 2026

RPO Vrystaat vra boere moet kalm bly | News Article
Die RPO is bekommerd oor die tempo waarteen die bek-en-klou-veesiekte versprei. Foto: Pexel

Die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO) is bekommerd oor die tempo waarteen bek-en-klouseer versprei.

Dié siekte het ’n groot ekonomiese uitwerking op die Vrystaat. Die huidige gevalle is sowat twee keer soveel as ’n jaar gelede.

“Bek-en-klouseer is ’n staatsbeheerde siekte,” sê PD Cilliers, voorsitter van die RPO in die Vrystaat se dieregesondheidsforum. “Dit het ontsnap uit die rooilyn uit, en soos ek altyd vir boere sê, niemand van die staat kon nog vir my definieer wat en waar is die rooilyn nie. 

“Die staat het nie beheer oor die siekte nie. Die tienjaarplan van minister (John) Steenhuisen is wel ’n stap in die regte rigting.” Die staat se beheptheid met Iran en Venezuela, pleks wat op eie bodem gebeur, bekommer hom. 

Veral voedselsekerheid is ’n probleem waaraan geen aandag geskenk word nie.

Die entstof wat ingevoer gaan word, gaan net ’n nuwe speelveld word vir korrupsie, meen hy. Dit sal interessant wees om te sien wat die boer sal moet opdok as die entstof in Suid-Afrika beskikbaar is.

Bek-en-klouseer eis sy tol in die ekonomie van die Vrystaat. Foto: Pexel

“Ek dink dis belangrik om te besef dat bek-en-klou lank voor … Steenhuisen in sy amp was, reeds daar was. Hy het nou vir Willie Aucamp aangestel as minister van bosbou, visserye en omgewing, wat ’n baie goeie aanstelling is. Hy is self ’n wildboer en verstaan presies die uitdagings van die bedryf.

Cilliers meen Steenhuisen moet die erkenning kry wat hom toekom, maar “hy word ongelukkig mislei deur persone wat nie ’n idee het wat op grondvlak aangaan nie”.

Boere moet saamstaan

“Beeste kan ook met ’n katalogusveiling verkoop word soos wat wildveilings gedoen word. Die risiko gaan verminder word en die stelsel kan goed werk.”

Cilliers noem dat dit nou die tyd is wat boere moet saamstaan en mekaar ondersteun. Boereverenigings speel ’n groot rol om brandpunte te identifiseer en te bespreek en ook lede te ondersteun.

“Dis belangrik dat boere weet jou koöperasie of Landbank gaan jou nie ondersteun nie. Jy is finansieel op jou eie. Jy moet nou staatmaak op jou familie en verenigings.

LEES OOK: RPO bekommerd oor bek-en-klouseer

“Die RPO slaan baie vure dood weens valse inligting wat versprei word. Dit is nou die tyd om jou boerdery van A tot Z deur te gaan, raak ontslae van diere wat jy nie die winter kan voer nie; die prys is nou goed en jy moet nie uitstel nie,” sê Cilliers.

“Hou net kop bo water, sit om die tafel met belanghebbendes wat jou passie vir boerdery deel, vra die regte vrae en bereken jou risiko’s.”

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za. 

OFM Agri/Isabel van Tonder mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.