Agriculture
Regering gekap oor hantering van bek-en-klouseer-krisis─── ELSABÉ RICHARD 11:50 Wed, 13 May 2026
Die regering se hantering van die bek-en-klouseer-krisis kom weer onder skoot.
Talle organisasies en selfs politieke partye meen onnodige vertragings en gesentraliseerde beheer plaas boere en die landboubedryf onder geweldige druk rakende bek-en-klouseer (BKS). AfriForum sê die regering se jongste plan om BKS te bestuur, skep ’n monopolie op die verkryging en verspreiding van entstowwe.
Die regering mag nie boere dwing om deel te neem aan ’n skema waarvan die koste en regulasies nog nie bekend is nie, sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir omgewingsake.
Baie van die skade en onsekerheid kon beperk gewees het as die privaat sektor, insluitend privaat veeartse, vroeër by die proses betrek is. Die probleem met die regering se plan is nie dat produsente van lewendehawe nie wou optree nie, maar eerder dat die staat te lank self beheer wou uitoefen, sê hy.
Talle beeste moes van nuuts af ingeënt word nadat hulle weer besmet is weens vertragings met die tweede ronde inentings.
Die VF Plus waarsku die ernstige tekort aan BKS-entstof bedreig die naderende kalfseisoen in die Vrystaat. Jan van Niekerk, provinsiale leier, sê boere ervaar reeds groot verliese.
’n Boer in die Oos-Vrystaat het aan die party gesê meer as 50% van sy kalwers het binne die eerste twee weke ná geboorte gevrek. Boere behoort direkte toegang tot entstof te hê sodat hulle hul kuddes self vinniger kan beskerm, meen Van Niekerk.
“Die regering se administratiewe prosesse en gesentraliseerde beheer vertraag die uitrol van inentings,” sê hy. "Suid-Afrika kan ’n baie duur prys rakende voedselinflasie betaal as die probleem nie dringend beter bestuur word nie. Elke dag se vertraging kos boere geld en bedreig die voortbestaan van die Vrystaat se landbougemeenskap.”
John Steenhuisen, landbouminister, het sy tevredenheid uitgespreek met die voortgesette nasionale grootskaalse inenting teen BKS. Hy het onlangs tydens die land se sewende inentingsveldtog op Hazyview, Mpumalanga, gesê hy bly vol vertroue dat die teiken om 80% van die nasionale kudde teen Desember 2026 in te ent, bereik sal word.
Sy departement is nou toegespits op die versterking van 'n streeksbenadering in buurlande, insluitend die vestiging van 'n streeksantigeenbank wat in staat is om op BKS-SATS-stamme binne die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap-streek te reageer, en sodoende tydige en gekoördineerde reaksies op uitbrekings te verseker.
OFM Agri/Elsabé Richard-May cvdw
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za


