Agriculture
BKS-uitspraak bring nuwe hoop vir veeboere─── 11:23 Tue, 26 May 2026
Die uitspraak van die hooggeregshof in Pretoria oor private betrokkenheid by inenting teen bek-en-klouseer (BKS) word verwelkom as ’n belangrike oorwinning vir Suid-Afrika se vee- en wildboere, asook vir die breër burgerlike samelewing.
Die hof het beslis vee-eienaars, mag onder streng voorwaardes, wettig ingevoerde of vervaardigde BKS-entstowwe verkry en aan hul diere toedien. Daarmee is ’n groot struikelblok uit die weg geruim wat lank ’n doeltreffende privaatsektor-geleide inentingsveldtog vertraag het, terwyl honderde boerderye groot skade gely het.
Talle produsente het reeds groot verliese gely of selfs alles verloor terwyl hulle vir die staat moes wag. Organisasies soos Saai, Vrystaat Landbou (VL) en Sakeliga meen die uitspraak bied nou hoop dat die private sektor die nodige kapasiteit kan help verskaf om die siekte daadwerklik te stuit.
‘Geen geldige verweer’
Regter Cornelius van der Westhuizen het in sy uitspraak bevind dat John Steenhuisen, minister van landbou, sy departement en senior amptenare geen geldige verweer gehad het vir die maande lange vertraging met die goedkeuring van private inentingsinisiatiewe nie.
Die hof het gelas die minister, die direkteur-generaal en die direkteeur van dieregesondheid moet die regskoste van die aansoek betaal.
Francois Wilken, VL-president, sê die bevel is ’n groot stap vorentoe vir boere wat te lank blootgestel is aan die gevolge van die uitbreking. Die uitspraak bevestig dat produsente verantwoordelike stappe kan doen om hul kuddes te beskerm, en dat voortgesette vertragings en inmenging deur die staat nie langer aanvaarbaar is nie.
Saai het die uitspraak beskryf as ’n oorwinning teen die sentralisering van besluitneming en beheer in ’n staat wat nie meer oor die vermoë beskik om veesiektes doeltreffend te bestuur nie.
Die organisasie meen die uitspraak bevestig samewerking met die private sektor is noodsaaklik om die veebedryf te beskerm en die stryd teen BKS uiteindelik te wen.
Siektebeheer
Die VF Plus sê die saak het lankal verder gegaan as bloot siektebeheer. Die kernvraag het geword of die burgerlike samelewing funksies kan oorneem wanneer die staat misluk om dit behoorlik uit te voer.
Die hofuitspraak stuur ’n duidelike boodskap dat private kundigheid en kapasiteit eerder verwelkom as gekortwiek moet word, sê dr. Wynand Boshoff, landbouwoordvoerder.
Hoewel die bevel onmiddellike tussentydse verligting bied, sal die saak steeds voortgaan vir ’n finale beslissing oor die regulatoriese raamwerk. Nog regstappe word binne die volgende 20 dae verwag.
Organisasies wat die hofsaak ondersteun het, hoop nou die uitspraak sal ’n keerpunt wees in die stryd teen BKS en dat samewerking tussen boere, private veeartse en ander rolspelers die land se bioveiligheid sal versterk en verdere ekonomiese skade sal help voorkom.
OFM Agri dg
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.


