On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

El Niño toets somergraanboere

───   16:00 Mon, 21 Sep 2026

El Niño toets somergraanboere | News Article
Leon van der Vaart het hierdie sonkring in Sasolburg vasgevang. Foto: Facebook/Reënval in SA

Somergraanboere staan voor ’n moeiliker 2026/27-produksieseisoen.

Grondvog in die oostelike produksiegebiede bied steeds ondersteuning aan boere wat binnekort met grondvoorbereiding begin. Die vooruitsig van ’n sterk El Niño en hoër insetkoste verhoog egter die risiko’s vir die komende plantseisoen.

Wandile Sihlobo, Landbousakekamer-hoofekonoom, sê die gewone aanvang van die somergraanseisoen is minder as ’n maand weg. Geelmielies en sojabone is van die belangrikste gewasse wat in dié dele geplant word.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het einde verlede maand gewaarsku dat die huidige El Niño verder versterk. Vooruitskattings dui daarop dat ’n baie sterk El Niño binne die volgende paar maande kan ontwikkel en minstens tot aan die einde van die 2026/27-somer kan voortduur.

Die gewone aanvang van die somergraanseisoen is minder as ’n maand ver.  Foto: Facebook/Farm with me

Dit hou die moontlikheid van warmer en droër toestande vir Suid-Afrika in. “Dit is duidelik dat ons ’n moeilike seisoen tegemoetgaan,” sê Sihlobo.

Kommer oor die komende seisoen begin reeds in kommoditeitspryse wys. Witmieliepryse was op 18 September 9% hoër as ’n maand tevore en het rondom R3 965 per ton verhandel. Geelmielies was 10% duurder teen sowat R3 931 per ton. Die sojaboonprys het in dieselfde tydperk met 13% tot R8 953 per ton gestyg.

Dié stygings volg ondanks die groot oeste van die afgelope seisoen. Suid-Afrika is op koers na ’n mielie-oes van 17,4 miljoen ton, die grootste op rekord, terwyl voldoende voorraad steeds in plaaslike silo’s beskikbaar is.

Sihlobo meen kommer oor die volgende seisoen is dus tans ’n belangrike drywer van graanpryse. Verbruikers behoort nie onmiddellik ’n groot styging in voedselinflasie te ervaar nie.

Hoër mieliepryse neem gewoonlik drie tot vier maande om na graangebaseerde produkte op winkelrakke deur te werk. Die jongste prysstygings kan gevolglik eers in 2027 sterker in verbruikerspryse begin wys.

Boere moet intussen ook hoër kunsmis- en brandstofkoste hanteer. Die komende weke sal daarom belangrik wees vir plantbesluite, terwyl die omvang van aanplantings en die ontwikkeling van reënval die rigting van die 2026/27-seisoen sal help bepaal.

OFM Agri cvs

Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.