On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Trofeejag kan mense en natuur bevoordeel – navorsers

───   ISABEL VAN TONDER 14:00 Mon, 28 Sep 2026

Trofeejag kan mense en natuur bevoordeel – navorsers | News Article
Die openbare debat stel trofeejag dikwels as óf geheel en al goed óf geheel en al sleg voor. Foto: Thegiansepillo/Pexels

Nuwe internasionale navorsing bevind trofeejag in Afrika suid van die Sahara het dikwels voordelige uitkomste vir bewaring en plaaslike gemeenskappe, maar die resultate hang af van hoe jag bestuur word en wie uit die inkomste voordeel trek.

Die navorsing is Woensdag 9 September in Conservation Letters gepubliseer en 89 wetenskaplike artikels van 13 lande is ontleed. Hulle het gekyk na uitkomste vir wildbevolkings, habitatte en plaaslike mense se welstand, inkomste, werk en voedselsekerheid. Dit word beskryf as die omvattendste oorsig tot dusver.

Sowat 65% van die gedokumenteerde uitkomste is positief vir bewaring en plaaslike welstand, teenoor 26% negatiewe en 9% dubbelsinnige uitkomste. Die duidelikste voordele is by habitat aangeteken: in 92% van die gevalle hou trofeejag verband met ’n toename in die hoeveelheid grond wat vir bewaring aangewend word.

In die navorsing word ook bevind inkomste uit jag kan grondeienaars en gemeenskappe aanspoor om wild en habitat te behou eerder as om grond na landbou of veeboerdery om te skakel. In minstens 85% van die gevalle is positiewe uitkomste vir inkomste, werk en voedselsekerheid aangeteken.

Die invloed op diere se bewegingspatrone verskil ook van plek tot plek. Foto: Gavin Rain/Pexels 

Die bevolkings van gejagte spesies het meer dikwels stabiel gebly of gegroei as wat dit afgeneem het. Ouderdoms- en geslagsverhoudings is meer dikwels negatief geraak. 

Dr. Hayley Clements van die Universiteit Stellenbosch en hoofskrywer van die navorsing, sê die openbare debat stel trofeejag dikwels as óf geheel en al goed óf geheel en al sleg voor. “Wat ons oorsig wys, is dat die werklikheid baie meer konteksgebonde is – en konteks is iets waarop beleidmakers kan reageer.”

Daar is ook bevind dat positiewe uitkomste in meer as 80% van die gevalle voorkom waar plaaslike gemeenskappe of private grondeienaars regte oor grond en wild het en die inkomste uit jag ontvang. Dié patroon is volgens die navorsers veral in Namibië en Suid-Afrika sigbaar.

Toekomstige beleid

Waar die staat groter beheer oor wild op gemeenskapsgrond behou en gemeenskappe slegs ’n deel van die inkomste ontvang soos in dele van Tanzanië en Zambië, is die uitkomste meer gemeng. Die navorsers meen dat toekomstige beleid daarom sterker behoort te kyk na wie regte, besluitnemingsmag en finansiële voordele ontvang.

Sy sê die belangrike punt is dat uitkomste afhang van hoe jag bestuur en gereguleer word, eerder as bloot of jag plaasvind. Die navorsers stel voor dat invoerlande eerder bewys van bewaringsvoordele, billike plaaslike inkomste en wetenskaplik bepaalde kwotas vereis as om algemene verbodsbepalings te gebruik.

Ekostelsels se gesondheid en die nie-ekonomiese uitwerking van trofeejag op plaaslike gemeenskappe moet dus beter gemonitor word.  

OFM Agri dg

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.