Offbeat
Weird Wide Web – Van tierkoning tot tronkvoël tot president─── 15:19 Thu, 16 Mar 2023

Die befaamde Joe Exotic het aangekondig dat hy homself as president verkiesbaar gaan stel in die volgende Amerikaanse verkiesing – en hy maak nie ’n grap nie.
Dit is amper drie jaar sedert Exotic 'n huishoudelike naam geword het, grootliks te danke aan Netflix se Tiger King-dokumentêr wat die bisarre gebeure by die Greater Wynnewood-eksotiese dierepark ondersoek het.
Hoewel hy tans in die tronk is vir dieremishandeling en poging tot moord, het die voormalige dieretuinopsigter aan aanhangers gesê hy is doodernstig oor sy presidensiële ambisies.
Exotic, wat ook bekend staan as Joseph Allen Maldonado-Passage, sê hy is slegs agter tralies weens “korrupsie in die Amerikaanse regstelsel”.
“Ja, ek weet ek is in die tronk en julle dink dalk dit is 'n grap, maar dit is nie. Dit is my grondwetlike reg om dit selfs van hier af te doen,” sê die TV-persoonlikheid.
Hy beweer ander het gehelp om hom valslik skuldig te bevind. "Ek is net hier weens korrupsie in die departement van justisie en drie misdadigers wat vertel is hoe om onder eed te lieg."
Exotic maak ‘n aantal bisarre bewerings in ‘n brief aan aanhangers, onder meer dat die Amerikaanse regering belasting aan ander lande “weggee”.
LEES OOK: Weird Wide Web – Inwoners vier padwerke se derde verjaarsdag
"Dit is hoekom ek dit doen, om julle uiteindelik 'n stem en julle vryheid terug te gee sonder om bang te wees om in 'n land te woon wat dink hulle besit jou en kan jou vertel hoe om jou lewe te leef."
Dit is nie die eerste keer dat Exotic sy oog op politiek het nie. Hy het in 2017 homself as goewerneur van Oklahoma verkiesbaar gestel nadat sy presidensiële planne in 2016 nie gerealiseer het nie – glo omdat hy brandarm was.
Dit is onwaarskynlik dat hy binnekort die opperbevelvoerder van die Amerikaanse volk sal word. Hy dien tans 21 jaar tronkstraf uit nadat hy daaraan skuldig bevind is dat hy twee huurmoordenaars probeer huur het om Carol Baskin in Januarie 2020 te vermoor.
Exotic is ook daaraan skuldig bevind dat hy vyf tiere doodgemaak het, onwettig met tierwelpies handel gedryf het en bewyse vervals het, hoewel hy dit deurlopend ontken.
“Die enigste ding wat ek gedoen het, was om vyf baie ou, kreupel tiere op die mees menslike manier moontlik te laat slaap en dit is deur ‘n landbou-inspekteur goedgekeur."
Hy beskuldig op sy beurt Baskin daarvan dat sy “226 tiere doodgemaak het”.
“Die meeste mense eet vleis, dit is tyd om aan te beweeg.”
Lees meer hier.