Offbeat
Weird Wide Web – Regsfirma dagvaar robotprokureur─── 15:05 Tue, 21 Mar 2023
Die wêreld se allereerste robotprokureur – ja, jy het reg gelees – is pas gedagvaar.
Dit klink dalk soos die storielyn van ’n wetenskapsfiksieprent, maar dis sowaar besig om te gebeur: ’n robo-prokureur van New York word deur Edelson, ’n regsfirma van Chicago, gedagvaar vir “ongemagtigde regspraktyk”.
Die stigter van die kunsmatige-intelligensie (KI)-aangedrewe tegnologie, Joshua Browder, het sedertdien teruggekap en gesê sulke aansprake het “geen meriete” nie.
Die 26-jarige Browder het die tegnologie, genaamd DoNotPay, as 19-jarige geskep as ‘n hulpmiddel om motoriste te help om verkeersboetekaartjies in die hof teen te staan. DoNotPay het glo al duisende motoriste gehelp om miljoene dollars aan boetes te bespaar.
DoNotPay beweer op sy webwerf dat hy “korporasies kan beveg, burokrasie kan klop en enigiemand met die druk van 'n knoppie kan dagvaar”.
Ironies genoeg is dit die robot wat nou gedagvaar word.

Credit: unilad.com/R-Type / Alamy Stock Photo
Browder het die dagvaarding op Twitter uitgebasuin: “Slegte nuus! Jay Edelson, Amerika se rykste klasaksie-prokureur, dagvaar my onderneming DoNotPay in Kalifornië.
"Mnr Edelson, wat miljarde maak om maatskappye te dagvaar, val ons aan vir 'ongemagtigde regspraktyk' en soek 'n hofbevel wat ‘n einde maak aan alle kunsmatige intelligensie-produkte.”
Edelson beweer die tegnologie is onwettig, dat DoNotPay “substandaard”-regsdokumente het en sê “DoNotPay is nie eintlik ’n robot, ’n prokureur of ’n regsfirma nie.
Lees ook: Eloff praat uit oor 'Swipe Regs'
"DoNotPay het nie 'n regsgraad nie, is nie tot die balie toegelaat nie en is nie onder toesig van enige prokureur nie.
"Ongelukkig mis DoNotPay die punt. Om regsdienste aan die publiek te verskaf, sonder om 'n prokureur te wees of selfs onder toesig van 'n prokureur, is roekeloos en gevaarlik.”
Edelson verwys na ‘n geval waar DoNotPay na bewering ‘n klant se boetes vir twee parkeerkaartjies verhoog het pleks daarvan om dit te besleg, omdat DoNotPay versuim het om op die dagvaarding te reageer.
In ‘n ander voorval het ‘n klant, wat wou argumenteer dat sy nie skuldig was nie, haar deur DoNotPay laat voorsê en skuld erken, wat daartoe gelei het dat sy ‘n stywe boete moes betaal.
Browder het hierop reageer en gesê dat die aansprake deur Edelson “geen meriete het nie”.
"Ons is beginners en dinge gebeur.”
‘n Woordvoerder van DoNotPay het aan Unilad gesê dat die robotprokureur “dosyne sake suksesvol vir die genoemde eiser afgehandel het en die sake wat in hierdie regsgeding uitgelig is, geen meriete het nie.
“Die saak is deur 'n prokureur aanhangig gemaak wat persoonlik honderde miljoene uit klasaksies betaal is, so dit is nie verbasend dat hy 'n KI sou beskuldig van 'ongemagtigde regspraktyk' nie.”
Lees meer hier: https://www.unilad.com/technology/worlds-first-robot-sued-law-firm-343328-20230314
