Offbeat
Weird Wide Web – Toilet wat sonder water werk, sowaar!─── 15:16 Mon, 27 Mar 2023

’n Video van ’n waterlose toilet wat menslike ontlasting tot as verbrand pleks dat dit weggespoel hoef te word, het die internet in vervoering.
’n Video wat op Instagram deur @vanwives gedeel is, wys hoe die omgewingsvriendelike toilet – wat heel gepas Cinderella Incineration Toilet genoem word - ontlasting tot reuklose as verbrand deur die druk van ‘n knoppie.
Al wat 'n persoon moet doen, is om die toiletsitplek oop te maak, 'n voering daarin te plaas, en sodra hy klaar is met sy “besigheid” dit aan die brand te steek deur ‘n knoppie te druk.
Die Instagram-video het behoorlik opslae gemaak en is binne enkele dae meer as nege miljoen keer gekyk.
"Kan jy jou indink hoe jy aan jou gaste die vreemde reuk in jou huis moet verduidelik?" het een gebruiker grappenderwys gevra.
"Ek wed enigiets dat die energie wat nodig is om dit te verbrand, baie meer besoedelend is as die eenvoudige proses van natuurlike ontbinding," het 'n ander gesê.
'n Derde gebruiker het gewonder wat van die verbrandingsgasse word (“waarheen gaan die gasse?”), terwyl ‘n vierde een gesê het hy hoop in die toekoms “werk alle toilette op hierdie manier”.
LEES OOK: Weird Wide Web – Regsfirma dagvaar robotprokureur
Volgens die webwerf verbrand die Cinderella-toilet ontlasting deur druk van onder af met stralingshitte te kombineer. Die verbrandingskamer laat vars lug in wat enige gasse filtreer.
Die toilet kan met gas óf elektrisiteit werk.
Lees meer hier.