Offbeat
Weird Wide Web – Restaurante bedien etes tussen grafte─── 15:10 Mon, 15 Jan 2024
Die Lucky Restaurant is reg bo-op 'n begraafplaas gebou en vertoon die grafte binne en tussen tafels en stoele.
Restaurante wil altyd uniek wees en vir hul gaste ’n nuwe ervaring bied. In Ahmedabad, Indië, is die Lucky-restaurant ’n plek waar mense se oë rek van pure verbasing. Want die kos word tussen die grafstene bedien.
Die restaurant is reg bo-op ’n begraafplaas gebou met die grafte binne en tussen tafels en stoele. Die eienaar, Krishnan Kutti, het die vreemde keuse gemaak om ‘n nuwe restaurant op die begraafplaas te open nadat hy besef het dat hy daarby kan baat.
Lees ook: Feel Good Friday – Vrou vind haar pleegma ná 40 jaar
In plaas daarvan om die grafte te bedek, het hy die restaurant om hulle gebou. Om die grafte het hy staal gesit sodat niemand aan die grafte kan raak nie. Niemand weet wie daar begrawe is nie, maar daar is ’n teorie dat hulle aan Moslem-volgelinge van ’n 16de-eeuse Soefi-heilige behoort het.
Kutti glo om saam met dooie mense te eet bring geluk en die grafte word met respek hanteer. Dit word elke dag skoon gemaak en met blomme versier.
By die Savannah Hilton Head-lughawe in die Amerikaanse deelstaat Georgia kan jy twee reghoekige vorms langs die aanloopbaan sien. Dit is die laaste rusplek van Catherine en Richard Dotson.
Hierdie 1877-begraafplaas was die tuiste van meer as 100 mense, van wie sommige slawe was en vir die egpaar en ander familielede gewerk het. Die grond het aan die egpaar behoort en die deel waar die aanloopbaan is, was die familiekerkhof op hul plaas.
Die weermag het in die Tweede Wêreldoorlog plek nodig gehad om sy vegvliegtuie te land. Hul grafte het daar gebly omdat hul familie hulle nie wou verskuif nie.

