On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Offbeat

Ontvoerde Kanadese tuinkabouters terug – nuut uitgevat

───   14:00 Wed, 10 Jul 2024

Ontvoerde Kanadese tuinkabouters terug – nuut uitgevat  | News Article
Tuinkabouters ontvoer; terugbesorg en nuut uitgevat. Foto: Kelly Blair/gnn.org

“Daar was ’n papiersilhoeët van ’n kabouter met die woorde ‘Gnome Restoration Society’.”

Dit gons in ’n klein dorpie in Kanada nadat tien tuinkabouters uit ’n man se tuin ontvoer is.

Kelly Blair, ’n inwoner van Kelowna, het een oggend wakker geword en ontdek sy tuinkabouters is weg uit sy erf, berig Kelownacapnews. Blair was bekommerd omdat hy ’n paar weke gelede ook ’n kano verloor het. Hy het begin dink sy woonbuurt is nie meer veilig nie.

Hy het jare lank die kabouters se geselskap geniet en sou hul verweerde gesigte mis.

‘Daar was ’n klop aan die agterdeur’

Toe, op 3 Julie, enkele weke later, is ’n klop aan die agterdeur gehoor. Blair het dit oopgemaak en ’n geheimsinnige vrou gesien met ’n koevert wat aan “Die Huiseienaar” gerig is.

Toe hy besef dat sy nie een van sy vrae kon beantwoord nie, het hy die koevert oopgemaak. Daar was ’n papiersilhoeët van ’n kabouter in met die woorde “Gnome Restoration Society” in die middel geskryf.

Die vrou het, sonder om ’n woord te sê, Blair na die agterkant van haar trok gelei waar hy, netjies in bokse gerangskik, al sy kabouters gesien glimlag het agter lae vars verf.

“Die kabouters is tuis,” het Blair gesê. “Dit het net heeltemal my dag gemaak.”

Die boodskapper het glo gesê die mense wil anoniem bly en buiten dit het sy geen inligting om aan Blair te gee nie. Hy sê hy was verstom oor die pragtige detail en herstelwerk en dat hierdie ontvoerders nuwe lewe aan sy tuinkabouters gegee het. “Die detail is net ongelooflik.”

Hy wil graag almal wat betrokke is by die kabouter-herstelprojek bedank. “Baie dankie vir hierdie verrassende daad van vriendelikheid.”

Is jy op soek na jou tuinkabouters? Dalk is dit die werk van die geheimsinnige “Gnome Restoration Society”.

OFM Nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.