On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Ashmund
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Offbeat

Weird Wide Web – Wanneer ontspanningsaktiwiteite verkeerd loop!

───   15:39 Wed, 04 Jun 2025

Weird Wide Web – Wanneer ontspanningsaktiwiteite verkeerd loop! | News Article
Foto: Skermgreep

’n Ervare valskermswewer het wonderbaarlik ’n seldsame en gevaarlike verskynsel oorleef, waar hy deur wolke tot ’n hoogte van 28 210 voet (8 600 meter) opgesuig is.

Foto’s en video’s van die Chinese valskermswewer Liu Ge wat probeer kalm bly terwyl hy gevaarlik lae vlakke van suurstof ervaar en temperature so laag as -40 grade Celsius trotseer, het op sosiale media versprei. 

In die beeldmateriaal is Liu se klere en gesig met ys bedek, en hy sukkel om asem te haal en bewussyn te behou weens die lae suurstofvlak.

Op 24 Mei het Liu Ge opgestyg vanaf ongeveer 3 000 m in die Qilian-berge, op die grens tussen westelike Gansu en noordoostelike Qinghai. Terwyl hy besig was om te vlieg, het ’n cumulonimbuswolk agter hom gevorm, en hy is al hoër en hoër die lug ingesuig – tot bo die wolke.

LEES OOK: Conspiracy Corner – Is AI replacing our language?

“Wolksuig” is ’n goed gedokumenteerde verskynsel waar valskermswewers ’n sterk opstuwing ervaar as gevolg van termiese strome onder cumuluswolke – veral hoë cumulus- en cumulonimbuswolke. Dit word gewoonlik gekenmerk deur ’n toename in die opwaartse termiese luggolwe naby die basis van die wolk.

Swewers, wat voorheen hierdie verskynsel beleef het, sê hulle kon nie afkom nie, selfs nadat hulle hul skerms in diep spirale gedwing het – iets wat normaalweg ’n vinnige daling sou veroorsaak.

LEES OOK: Weird Wide Web – Amerikaanse winkelsentrums begin om woonstelle daarin te voeg

Omdat Liu nie beplan het om so hoog te vlieg nie – Chinese regulasies beperk vlugte tot onder 16 405 voet (5 000 meter) – het hy nie ’n suurstofmasker of dik klere gehad om die yskoue temperature en suurstoftekort te hanteer nie. Ten spyte hiervan het hy aanhou kommunikeer met vriende op die grond via ’n interkom, en kon hy uiteindelik weer afdaal.

“Ek het die suurstoftekort gevoel en my hande het gevries, maar ek het aanhou kommunikeer via die interkom,” sê Liu op sosiale media.

Die Chinese valskermswewer se ekstreme ervaring het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei, maar sy skielike beroemdheid kan vir hom moeilikheid beteken. Hy het blykbaar nie sy vlug op die dag van die voorval aangemeld nie – soos vereis – en dit het owerhede genoop om ’n amptelike ondersoek te begin.

Al praat baie mense nou van sy vlug as moontlik ’n nuwe rekord vir valskermsweef, pleit Liu Ge aanlyn dat mense moet ophou om dit so op te blaas. Hy vrees waarskynlik dat sy waagstuk ernstige regsgevolge kan hê.

Lees meer

OFM Nuus cgmvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.