South Africa
Orgaanoesting moontlik steeds rede vir vermiste SA mans─── 17:48 Thu, 22 Aug 2019
Die onlangse berigte oor die verdwyning van twee Suid-Afrikaanse onderwysers in Viëtnam het die hele Suid-Afrika aan die gons.
Daar word vermoed dat hulle verdwyning moontlik gekoppel is aan orgaanoesting. Nuwe bewerings van ander Suid-Afrikaanse onderwysers in Viëtnam, eis egter dat dit moontlik is dat John Bothma en Mushfiq Daniels aan die verkeerde kant van die gereg gekom het wat dwelms betref. ‘n Oud-Bloemfonteiner, wat ook tans in Viëtnam werk, het aan OFM-nuus gesê dat daar byvoorbeeld verlede jaar sewe mense dood is as gevolg van, wat sy noem "bad drugs", by ‘n trance-partytjie in Hanoi, Viëtnam. Die regering het daarna trance-partytjies verban. Sy het ook gesê dat orgaanhandel nie eens deur Suid-Afrikaanse onderwysers as ‘n moontlikheid bespreek word nie.
Teen hierdie agtergrond het Imtiaz Sooliman van die Gift of the Givers Stigting, dwelmbetrokkenheid verafsku. Hy het aan OFM-nuus verduidelik dat daar geen rekords is van die Suid-Afrikaners in hospitale, klinieke of enige lykshuis in Vietnam nie. Hy het verduidelik dat hulle grootste vermoede steeds is dat iemand Bothma en Daniels vir orgaanoesting aanhou.
Hy het gedeel dat die vraag na organe groot is in Viëtnam, aangesien omtrent vyf miljoen mense daar organe nodig het. Sooliman het verder verduidelik dat daar tot $200 000 betaal kan word vir een nier, wat beteken dat hierdie ‘n baie lonende praktyk geword het.
OFM-nuus/Elsabé Richard
