On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

South Africa

AfriForum wil magsmisbruik deur polisie teenstaan

───   16:06 Tue, 04 May 2021

AfriForum wil magsmisbruik deur polisie teenstaan | News Article

Die geregtelike doodsondersoek na die dood van Solomon (Solly) Nengwane is vandag in die Landdroshof in Brits vir 20 tot 23 September op die hofrol geplaas.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid, tree namens Nengwane se familie in hierdie ondersoek op. Die persone van belang is agt senior polisiebeamptes onder wie se toesig die slagoffer in 2006 in aanhouding oorlede is. Dit volg nadat Nengwane se familie die private vervolgingseenheid genader het om hulp omdat niemand ná 17 jaar nog vir sy dood aanspreeklik gehou word nie.

Die persone van belang het nie vandag by die hof opgedaag nie. Hulle is egter gewaarsku om op 9 Junie 2021 in die hof te verskyn wanneer hulle ’n aansoek bring om adv. Nel te verhinder om namens die Nengwane-familie op te tree. Dié aansoek spruit daaruit dat Ntebo Jan Mabula (een van die persone van belang) die beampte is wat adv. Nel in 2008 gearresteer het te midde van die vervolging van Jackie Selebi. AfriForum sal hierdie aansoek teenstaan.

Nengwane is een van vyf persone wat in 2006 gearresteer en deur die polisie ondervra is nadat miljoene Amerikaanse dollar – asook dwelms – uit ’n Benoni-polisiestasie gesteel is. Die agt persone van belang in die geregtelike doodsondersoek was destyds deel van die taakspan wat die saak ondersoek het. Die gesteelde geld en dwelms is egter nooit gevind nie en verskeie getuies in hierdie saak het luidens mediaberigte onder verdagte omstandighede verdwyn. Nengwane is op 6 Junie 2006 oorlede nadat hy deur die persone van belang gearresteer is. Die amptelike weergawe is dat die polisie vir Nengwane na die Dr. George Mukhari-hospitaal geneem het en dat hy reeds oorlede was toe hulle by die hospitaal aangekom het. Die polisie het sy liggaam by die hospitaal gelos.

“Dit is betreurenswaardig dat Solly Nengwane se familie steeds ná byna twee dekades wag dat geregtigheid moet geskied, asook op antwoorde oor wie vir sy dood verantwoordelik gehou kan word. AfriForum staan polisiemagsmisbruik teen. Die feit dat Nengwane in polisie-aanhouding oorlede is, skep vraagtekens oor die betrokke polisielede se optrede in hierdie saak. AfriForum se private vervolgingseenheid sal daarom met hierdie saak voortgaan, om toe te sien dat geregtigheid wél geskied,” sê Wico Swanepoel, prokureur by AfriForum se private vervolgingseenheid.


Verklaring verskaf.

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.