South Africa
Helikopter lewer ná vloede kospakkies af vir gestrande gesinne─── 09:47 Mon, 28 Nov 2022
Meer as 480 Noord-Kapenaars, wat vir meer as ’n week geïsoleer was weens die oorstroming van laagwaterbrûe naby Keimoes, het weer toegang tot die dorp.
Die nie-regeringsorganisasie Gift of the Givers (GoG), vergesel deur 'n taakspan bestaande uit lede van die polisie en Kai Garib-munisipaliteit, het 'n helikopter ontplooi om kospakkies en ander noodsaaklike voorrade aan vasgekeerde gesinne te verskaf.

Volgens die jongste inligting het die rivier reeds met na raming 1,5 meter gedaal en sak dit steeds.
Burgemeester Marshall Matthys is egter bekommerd dat meer reën voorspel is, wat tot nog 'n styging in die watervlakke kan lei.
By Grobbelaarshoop het die watervlak van 6,9 meter tot 4,8 meter gedaal.
GoG projekbestuurder, Ali Sablay, sê hulle is dankbaar dat die burgemeester kontak gemaak en om hulp gevra het.
Intussen het die SA Weerdiens ‘n nat week vir die provinisie voorspel, met geïsoleerde donderbuie en storms veral in die oostelike dele.
OFM-nuus/Roderick Titus
