On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

South Africa

Bokslegende Gerrie Coetzee sterf

───   07:36 Fri, 13 Jan 2023

Bokslegende Gerrie Coetzee sterf | News Article
Die bokslegende, Gerrie Coetzee. FOTO: Gallo Images

Die bokslegende Gerrie Coetzee is Donderdag, 12 Januarie 2023, in die ouderdom van 67 jaar oorlede nadat ’n aggressiewe vorm van kanker pas verlede week by hom gediagnoseer is.

Sy dogter Lana Coetzee het dit aan die publikasie IOL Sport bevestig. 

Gerhardus Christian (Gerrie) Coetzee is op 8 April 1955 op Boksburg aan die Oos-Rand gebore en word beskou as Suid-Afrika se beste swaargewigbokser tot dusver.

Hy was die eerste bokser uit Afrika wat om die wêreldswaargewigtitel meegeding het en ook die eerste wat dit kon wen toe hy Michael Dokes in 1983 in Richfield, Ohio, in die agtste rondte uitgeslaan het. 

In sy loopbaan het hy 33 keer gewen, ses keer verloor en een keer gelykop geveg. Van sy 33 oorwinnings het hy 21 gevegte met ’n uitklophou beklink.

Hy het met die jare probleme met sy regterhand ervaar en moes drie operasies daaraan ondergaan. Dit het aan hom twee byname besorg: “The Bionic Hand” en “Seer Handjies”, wat die bokser Kallie Knoetze aan hom gegee het. 

Na aanleiding hiervan het Leon Schuster ’n liedjie getiteld “Gerrie Seer-Handjies Coetzee” opgeneem.

'Deur-en-deur 'n gesinsman'

Netwerk24 berig Coetzee het sowat twee jaar gelede ’n groot rugoperasie ondergaan en mooi herstel, maar volgens die bokspromotor Jeff Ellis het hy onlangs geval en sy ribbes beseer. Dit het blykbaar komplikasies veroorsaak. Toe Ellis hom ’n jaar gelede laas gesien het, het Coetzee gesukkel om te loop weens sy rugprobleme.

Oudpres. Thabo Mbeki het die Orde van Ikageng (brons) in 2003 aan hom toegeken vir sy boksprestasies en sy bydrae tot nasiebou deur sport.

Hy word oorleef deur sy vrou, Rina, drie kinders en sewe kleinkinders.

Sy dogter het aan IOL Sport gesê haar pa was "deur en deur ’n gesinsman" wat bitter lief vir sy familie was.

“Hy was streng wanneer dit nodig was, maar hy’t ’n klein hartjie gehad. Hy was die lig in ons lewe."

Die verfilming van Against all Odds, wat oor Coetzee se lewe handel, het verlede jaar begin en sal vanjaar afsluit. Die rolprentmaker Koos Roets sê Coetzee se onderhoud wat in die film gebruik word, was reeds verfilm.

"Hy was so opgewonde oor hierdie film. Ek onthou hom as hierdie groot teddiebeer, met die vriendelikste hart."

Aanvanklik sou die akteur Liam Hemsworth Coetzee vertolk, maar dit is later verander na die Suid-Afrikaanse MMA-ster Dricus du Plessis.

OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.