On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Gerben
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret and John
Listen Live Streams

South Africa

Arend verwar gholfbal met eier in Krugerwildtuin

───   16:21 Fri, 27 Jan 2023

Arend verwar gholfbal met eier in Krugerwildtuin | News Article
FOTO: Rihann van Wyk

‘n Lodgebestuurder en fotograafgids, Rihann van Wyk van die Mvuradona Safari Lodge, was op 'n wildrit in die Krugerwildtuin toe hy 'n bateleur-arend sien wat sy bes probeer het om ‘n gholfbal te verslind.

Hy het die storie met Latest Sightings gedeel.

"Tydens 'n wildrit in die Krugerwildtuin het ek op die S108-grondpad gery, op soek na die inwonende luiperds wat hierdie deel van die park hul tuiste noem.

“Dikwels, wanneer jy iets soek, sal jy dit nie kry nie. Terwyl ek dit by myself dink, het 'n groot roofvoël wat op die punt was om te land, my oog gevang.

"Hierdie deel van die wildtuin is hoofsaaklik grasveld met 'n paar appelblaarbome en struike. Toe die roofvoël land, het ek gesien dit is 'n bateleur-arend. Ek het 'n entjie verder stilgehou en gewag om te sien wat gaan gebeur. Ek het geweet daar moes iets wees wat sy aandag getrek het. Die volgende oomblik het dit 'n 'eier' opgetel en probeer sluk."

Bateleur-arende sal knaagdiere, klein reptiele, klein bokkies en aas vreet, maar eiers net by uitsondering.

"Die eier was te groot vir sy keel en ek het gedink dit is vreemd dat dit nie breek nie. Die bateleur het dit telkens opgetel en laat val. Die aanhoudende pogings om die eier te laat breek was vermoeiend en ietwat frustrerend vir die voël. Eers toe sien ek die arme bateleur probeer ’n gholfbal sluk.”

"Toe ek opmerk dat dit 'n gholfbal is, wou ek ‘n bietjie nader gaan, maar die bateleur het weggevlieg. Dit was beslis 'n eerste vir my. Hopelik hoef ek dit nooit weer te aanskou nie."

Die voorval dui op die skade wat rommelstrooi in die natuur kan aanrig. As die arend die gholfbal sou insluk, sou dit nie oorleef het nie.

Hoe die gholfbal langs die S108-pad beland het, is 'n raaisel want die naaste gholfbaan, by Skukuza, is 'n goeie ent weg.

OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.