South Africa
Hofdatum vir Hofmeyr se 'haatspraak'-saak bepaal─── 08:54 Fri, 17 Feb 2023
Die sanger Steve Hofmeyr moet in Julie in die hooggeregshof in Gqeberha verskyn nadat die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) hom verkla het oor sy uitlatings op sosiale media, wat die kommissie as “haatspraak en teistering” bejeën.
Hofmeyr het gesê Disney se plan om meer inklusiewe karakters in sy rolprente te hê, kinders daarop voorberei om “seks met diere te hê”. Hy het ook gesê die LGBTQIA+-gemeenskap verteenwoordig “bestialiteit”.
Die Menseregtekommissie het hierdie opmerkings as haatspraak en teistering ingevolge die Gelykheidswet beskou.
Algoa FM News berig dat, volgens dr. Eileen Carter van die SAMRK, besprekings tussen die partye Donderdag plaasgevind het en dat die saak op meriete sal voortgaan.
Hofmeyr se regsadviseur en die SAMRK het verlede jaar samesprekings buite die hof gehad in pogings om 'n skikking te bereik. Dié gesprekke het afgebreek en daar is besluit dat die sanger verhoor sal word.
Dr. Carter het voorheen aan Algoa FM News gesê hoewel die kommissie Hofmeyr met R500 000 wil beboet en wil eis dat hy gemeenskapsdiens moet ondergaan, dit in die hande van die hof is om op 'n gepaste bevel te besluit.
