South Africa
SA operaster sing by koning Charles se kroning─── 16:56 Mon, 20 Feb 2023
Die Suid-Afrikaanse operasangeres Pretty Yende tree in Mei by die kroningsplegtigheid van koning Charles op.
Buckingham-paleis het besonderhede bekend gemaak oor die kroning van Charles en Camilla, wat op Saterdag, 6 Mei 2023 in die Westminster-abdy plaasvind, berig News24.
Yende is deel van ‘n lys kunstenaars wat persoonlik deur die koning gekies is om talent van regoor die Verenigde Koninkryk en die Statebond ten toon te stel.
Nuwe opdragte sluit in 'n kroningslied deur Andrew Lloyd Webber, 'n kroningsmars deur Patrick Doyle, 'n opdrag vir solo-orrel deur Iain Farrington, en nuwe werke deur verskeie ander kunstenaars.
Yende is van Piet Retief in Mpumalanga afkomstig en het in 2010 haar professionele operadebuut by die Letlandse nasionale teater in Riga, Letland, gemaak as Micaela in Carmen, en reis nou gereeld vir opvoerings by van die bekendste teaters in die wêreld.
Sy het die nuus op sosiale media gedeel en gesê: " Dit is moeilik om in woorde te beskryf hoe geëerd en geseënd ek voel om 'n uitnodiging te ontvang om op Saterdag, 6 Mei, by die kroning van hul majesteite, die koning en die koningin-konsort by die Westminster-abdy op te tree."
