On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

South Africa

EFF se blaf oor landwye stilstand erger as sy byt – VF Plus

───   MORNÉ VAN ROOYEN 13:41 Tue, 14 Mar 2023

EFF se blaf oor landwye stilstand erger as sy byt – VF Plus | News Article
VF Plus-leier dr. Pieter Groenewald. Foto: Twitter

Die VF Plus sê die EFF sal hom wat verbeel as dié party dink hy kan die land tot stilstand bring.

Die Rooi Barette dreig met landwye optrede op Maandag 20 Maart en waarsku sakeondernemings en fabrieke moet hul deure sluit as hulle nie onder EFF-lede wil deurloop wat daaraan deelneem nie.

“Ons kry baie navrae van mense oor die EFF se beplande staking,” sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus. “Wat die EFF nou ook doen, is hulle ry rond in plekke met luidsprekers en dreig winkeleienaars dat indien hulle nie hulle winkels Maandag sluit nie, dan sal hulle winkels geplunder word.”

Sy party doen ’n beroep op enige winkeleienaars om dadelik ’n klag van intimidasie by hulle naaste polisiekantoor aanhangig te maak. “Ongelukkig bepaal die wet dat die persoon wat geïntimideer word die klag moet lê. Daarom vra ek vir u as winkeleienaar om dit te doen.”

‘Die grootste vakverbond in Suid-Afrika, Cosatu, het ook al gesê hy gaan dit doen, maar hy het dit nie reggekry nie’

Groenewald sê hy glo nie dit sit in die EFF se broek om sy dreigement van ’n landwye stilstand uit te voer nie. “Die grootste vakverbond in Suid-Afrika, Cosatu, het ook al gesê hy gaan dit doen, maar hy het dit nie reggekry nie.”

Die VF Plus-leier gee toe daar sal wel geïsoleerde gevalle en plekke wees waar daar wel opgetree en gestaak sal word, maar die polisie is gereed.

“Die EFF mislei ook mense, want hulle het gesê op Maandag 20 Maart sal hulle sorg dat alle skole gesluit is. Dit is misleidend omdat die (onderwysdepartement) reeds besluit het alle skole sal op 20 Maart gesluit word; dis al lankal bepaal, aan die begin van die jaar al, omdat die 21ste Menseregtedag is, wat ’n openbare vakansiedag is.”

Groenewald doen dus ’n beroep op mense om versigtig te wees, om nie onnodig rond te ry nie of, as daar dan stakings is, nie daarby betrokke te raak nie. “Maar wat hierdie intimidasie betref, gaan lê asseblief ’n klagte.”

Hy sê hy sal ook direk met die polisiekommissaris skakel om dit duidelik te maak die EFF se dreigemente is eintlik niks anders as aanstigting van geweld nie en dat die polisie moet optree, maar sakemense moet self klagte indien.

OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.