On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

South Africa

Louis Massyn mik altyd vir meer marathons

───   CHARNÉ KEMP 17:43 Fri, 17 Mar 2023

Louis Massyn mik altyd vir meer marathons | News Article
Louis Massyn met sy gesogte 6-ster-medalje in Tokio.

Niks voel vir Louis Massyn beter as die gras onder sy voete nadat hy ’n marathon voltooi het nie, veral as dit die Tokio-marathon is.

Die wedloop het hom die gesogte 6-ster-medalje besorg nadat hy sedert 2017 marathons in ses wêreldstede voltooi het.

Die 72-jarige Massyn het twee weke gelede uit Japan teruggekeer. Hy kan nou sê hy is een van net enkele duisende atlete ter wêreld wat die kwalifiserende marathons in Londen, Chicago, New York, Boston, Tokio en Berlyn voltooi het wat die 6-ster teen hul mure uitstal.

“Dit was ’n wonderlike gevoel om die spesiale medalje vas te hou. Daar is niks beters nie as om weer gras onder die voete te voel wanneer jy klaar is met ’n wedloop. ’n Mens kan dit amper nie beskryf nie.”

Was dit nie vir die ontwrigting weens die pandemie nie, het hy lankal die Tokio-marathon aangedurf.

Massyn was die eerste atleet in Suid-Afrika wat meer as 40 Comrades- en 40 Twee Oseane-marathons voltooi het. Vanjaar hardloop hy sy 46ste Twee Oseane- en 48ste Comrades-marathon. Die Comrades was juis die eerste marathon wat hy aangepak het.

 “My volgende mikpunt is om volgende jaar aan die Parys-marathon deel te neem,” vertel Massyn, wat voor sy aftrede ’n mediese verteenwoordiger was.

“Dit sal saam met die Olimpiese Spele val, maar geen Olimpiese atlete gaan deelneem nie. Dit sal moeilik wees om plek te kry, maar ek kry hulp van ’n Amerikaanse klub.

“Verlede jaar het ek die Londen-marathon gehardloop, ’n week daarna die Chicago-marathon en toe die Detroit Free Press-marathon.

“Ná die wedloop het die organiseerders aangebied om ’n motivering te skryf om een van die 500 beskikbare plekke vir die Parys-marathon te kry. Ek hoop en glo dat ek goedgekeur sal word.”

Massyn, wat op Odendaalsrus naby Welkom woon, skerts en sê hy sal hardloop tot sy bene stompies is – en dis nog ver van stompies af.

“Ek het wel verlede jaar teenspoed gehad nadat my meniskus geskeur het. Ek was ses weke buite aksie ná die knieoperasie waarin die meniskus geheg en skoongemaak is.”

Massyn het op 22 sy eerste marathon gehardloop, die eerste van 272 tot dusver.

OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.