South Africa
Gauteng se nuwe misdaadvoorkomingsbewaarders wek kommer: VF+─── 06:35 Wed, 17 May 2023
Die Gautengse premier se nuutaangestelde 4 000 misdaadvoorkomingsbewaarders se gebrekkige opleiding is kommerwekkend.
Die bewaarders se opleiding van drie maande kan nie vergelyk word met polisiestudente wat 'n verpligte kursus van twaalf maande aan die polisie-akademie moet voltooi nie.
Daarna moet die polisielede nog praktiese opleiding van twaalf maande by ’n polisiekantoor ondergaan.
Selfs met dié opleiding is baie polisielede nie toegerus om misdaad doeltreffend te bekamp nie.
Gauteng VF Plus LPW Kobus Hoffman is verder bekommerd oor die bewaarders se bevoegdhede en opleidingsproses ingevolge die Strafproseswet.
"Dit magtig hulle om boetes uit te reik, beslag te lê op onwettige items soos dwelms en ammunisie en om verdagtes in hegtenis te neem."
Die VF Plus het in ’n brief aan die LUR vir gemeenskapsveiligheid, Faith Mazibuko, gestuur waarin gevra word wat die bewaarders se vuurwapenbevoegdhede is, wat hul opleiding behels en wie verantwoordelik gaan wees vir siviele eise.
"Indien die bewaarders nie binne die raamwerk van die wet optree nie, kan dit lei tot siviele eise van miljoene rande," voeg Hoffman by.
"Die VF Plus is nie gekant teen enige poging om misdaad in Gauteng, wat van die hoogste misdaadsyfers in die land het, te bekamp nie. Bewaarders wat onvoldoende opleiding ontvang het, kan egter nie in die voorste linies geplaas word om dit te doen nie. Dit sal ’n donker dag vir Gauteng wees indien hierdie bewaarders self slagoffers van misdaad word in Lesufi se pogings om die mag in Gauteng te behou. Gauteng verdien beter as Lesufi en die ANC."
