On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

South Africa

‘ANC gebruik nou water om boere van hul grond te verdryf’

───   11:38 Fri, 02 Jun 2023

‘ANC gebruik nou water om boere van hul grond te verdryf’ | News Article

“Die kwota van 75% swart eienaarskap waarna die staat mik in die toekenning van waterlisensies, is ’n deeglik beplande strategie om wit boere van hul plase te verdryf.”

“Dit is niks anders nie as onteiening sonder vergoeding, aangesien die regering water nou wil gebruik as ’n wapen teen boere se koppe, om hul eiendom aan swartes oor te gee,” het die VF Plus se nasionale woordvoerder, Wouter Wessels, gesê.

“Die VF Plus sal alles in sy vermoë doen om hierdie vernietigende plan van die ANC van die tafel te vee en doen ’n beroep op elke regdenkende mens in die land om hom daarin te steun.

“Die ANC met sy rasgedrewe beleid het die punt bereik waar hy so desperaat is om aan die mag vas te klou dat hy bereid is om Suid-Afrika in die proses totaal te vernietig.

“Suid-Afrika se landbousektor neem sowat 60% van die land se jaarlikse waterverbruik en dit is duidelik dat dié sektor geteiken word.

“Die ANC-regering het skouspelagtig misluk met die totale restitusieprogram en ná 29 jaar is daar steeds geen suksesvolle natuurlike proses om grootskaalse swart deelname aan landbou te bewerkstellig nie.

“Die Departement van Water en Sanitasie het verlede Vrydag konsepregulasies in die Staatskoerant gepubliseer wat vereis dat ondernemings wat vir watergebruiklisensies aansoek doen, swart eienaarskap van 75% moet hê.

“In realiteit beteken dit dat alle grootskaalse watergebruikers – die landbousektor in die besonder, maar ook nywerhede waar water gebruik word – feitlik in totaliteit aan swart ‘aandeelhouers’ oorgedra moet word.

“Boere en die eienaars van groot ondernemings gaan oornag van eienaar tot arbeider met ’n minderheidsaandeel gereduseer word. Die gevolge van hierdie regulasies sal katastrofies vir Suid-Afrika wees.

“Die land het bykans nie meer krag nie. Water vir gewone gebruik is reeds ’n krisis en nou is die ANC besig met planne om ook kosproduksie te vernietig.

“Suid-Afrika se ekonomie is tot só ’n mate vernietig dat kosprodukte nie ingevoer sal kan word nie en die uiteinde sal rampspoedig vir elke Suid-Afrikaner wees.

“Wat die ANC hier doen, herinner aan skokkende voorbeelde uit die Sowjet-era waar die staat miljoene van sy eie mense van honger laat omkom het.

“Hierdie waarskuwing is baie werklik. Beurtkrag en cholera in die land se water moet dien as tydige bewys en waarskuwing.

“Dit is duidelik dat die ANC nou bereid is om die land te vernietig om steun by die stembus te behou. Dit mag nie gebeur nie.

“Aanstaande jaar bied die geleentheid om oplaas van ANC-nagmerrie ontslae te raak.”

OFM Nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.