South Africa
Gesondheidsdepartement rig waarskuwing ná stygende griepgevalle─── 08:04 Sun, 04 Jun 2023

Griepgevalle het sedert begin April geleidelik toegeneem en die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NICD) het verslae ontvang van die verhoogde voorkoms daarvan by groepe in skole en werkplekke.
Met die winter wat amptelik aangebreek het, het die Gesondheidsdepartement mense gewaarsku te midde van die stygende getal gevalle in die land nadat die NICD toenemende gevalle sedert die begin van Mei opgemerk het.
Griep is 'n akute respiratoriese siekte wat veroorsaak word deur 'n infeksie van die lugweë met die virus.
Alhoewel die meerderheid mense met griep, lig daarvan sal afkom, kan griep ernstige gevolge hê. Dit kan hospitalisasie of die dood veroorsaak, veral in individue wat die risiko loop om ernstige komplikasies te kry.
“Die virus versprei van persoon tot persoon deur inaseming van besmette respiratoriese druppels wanneer mense nies, hoes of praat. ’n Persoon kan ook besmet word deur besmette voorwerpe of oppervlaktes waarop die griepvirus is, aan te raak en dan aan hul mond, oë of neus te raak.
“Mense wat met griep besmet is, kan verspreiding voorkom deur hul mond te bedek wanneer hulle hoes; 'n masker te dra; hul hande gereeld met seep en water te was of ontsmet; of by die huis te bly en ’n afstand van ander te probeer hou.”
Die 2023-griepseisoen het in die laaste week van April begin toe die opsporingskoers (gemiddelde oor drie weke) die seisoenale drempel oorskry het.
Die toename in getalle is in ses provinsies geïdentifiseer, naamlik KZN, Mpumalanga, Gauteng, Wes-Kaap, Oos-Kaap en Noordwes. Dit word goed gemonitor.
Die kwesbaarste
Mense met 'n verhoogde risiko vir ernstige gesondheidskomplikasies van griep sluit in swanger vroue, mense met toestande soos MIV en ander chroniese siektes of toestande soos diabetes, longsiekte, tuberkulose, hartsiekte, niersiekte en vetsug, bejaardes (65 jaar en ouer) en kinders jonger as 2 jaar oud. Hierdie groepe moet aangemoedig word om vroegtydig mediese hulp te soek.
Simptome
Die mees algemene simptome sluit in koors, spierpyne en lyfseer, droë hoes, seer keel, loopneus, moegheid of hoofpyn. Dit kan 1 tot 4 dae ná infeksie ontwikkel en vir twee tot sewe dae duur. Vir die meerderheid mense verdwyn die simptome gewoonlik sonder behandeling.
Griep-entstof bly die primêre middel om seisoenale griepinfeksie te voorkom, en moet ten minste voor die griepseisoen (Maart tot April) toegedien word. Selfs al het die seisoen egter reeds begin, is dit nooit te laat om ingeënt te word nie, veral individue wat 'n hoë risiko vir ernstige griepsiektes of komplikasies het.